18 dae gelede
Dik kop jam
Kopstorie: Dis in een van die huise hiér waar ’n dief se deksel in die venster vasgesit het. Hy en sy makker (21 en 22) is nou in die selletjies.FOTO Verskaf  ~ 

GE­ORGE. – Die einste kop waarmee ’n dief hier beplan het om ’n huis te roof, het hom verraai.

Dis toe dié se kop met roofgedagtes en al Dinsdag vasgesit het in ’n vensterraam van die huis wat hy in Thembalethu wou besteel.

Gemeenskaps-lede het van oral gekom om die man te help.

Van hulle het selfs probeer om sy kop uit die venster­raam te trek.

Toe hulle hom vra hoe hy in die eerste plek in dié penarie beland het, het hy ’n liegstorie gespin.

Die man het beweer die eienaar van die huis het hom opdrag gegee om die venster reg te maak.

Sy makker was op die punt om met ’n leë sak die pad te vat toe buurtwaglede ingegryp en hulle vasgevat het. Die polisie het hulle later in hegtenis geneem.

Inwoners van Themba­lethu sê dis ’n ou ding dat die jongens toeslaan nadat eienaars vort is werk toe.

Een van die inwoners, Nasipho Longwe, vertel: “Die man wou by die huis inkom deur die klein venster­tjie, toe sit hy vas.

“Hy kon nie eens sy kop beweeg nie.”

Longwe sê hulle wou die huis beslis leeg dra. “Want waar­voor was die groot sak dan?”

Sy meen hulle was gelukkig dat die buurtwag eerste op die toneel was, want die fed-up inwoners sou hulle ’n les geleer het.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. Dumile Gwavu, het bevestig dat die twee mans (21 en 22) aangekeer is vir huisbraak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters