Verlede maand
Dief kry erg op sy gaai
KRIMINEEL: ’n Jong is op heterdaad betrap waar hy besig was om petrol te steel.  ~ Mpumi Kiva

MOSSELBAAI. – ’n Pet­roldief het ’n pak slae op die lyf geloop nadat hy nogal verstik het aan die petrol wat hy aan’t steel was.

Die 21-jarige vermeende dief, net bekend as Panasie, is Saterdagaand in Asla Park op heterdaad betrap terwyl hy besig was om petrol met ’n pyp uit ’n ou ballie se kar se tenk te suig.

Gekniel

Twee mans het hom te hulp gesnel toe hulle sien hy is besig om te verstik.

Toe merk hulle egter op wat hy eintlik besig was op te doen.

Die manne het toe sy hande vasgebind voordat hulle hom begin slaan en skop het.

Nino Klass (62) sê hy het sopas sy kar geparkeer voordat hy by sy huis ingestap het, toe kom sê die mense ’n jong steel sy petrol. Die pyp was nog in die petroltenk.

“Hy was al klaar dik geslaan en ek wou nie probleme hê nie,” sê Klass.

Toe vat Klass maar die petrol en tap dit terug in sy kar.

Volgens Klass worry mense oor die ernstigheid van die virus, maar daar is steeds mense wat sulke moeilikheid veroorsaak.

Volgens inwoners is brandstofdiefstal algemeen in die gebied.

Jonathan Joseph, ’n groenteverkoper wat ’n ou Toyota-bakkie bestuur, moes Vrydag uitvind dat iemand sy bakkie se tenk leeggemaak het.

Joseph het daai dag ’n halwe tenk ingegooi. Toe hy egter die volgende oggend wakker word, was die petroltenk leeg.

Hy kon sien iemand het gelol met die petroltenk.

Hy makeer elke dag brandstof om sy groente te gaan verkoop.

Joseph is nou baie bekommerd, want petrol is mos duur.

Sam Grootboom, lid van die local buurtwag, sê misdaad is ’n groot probleem in die gebied, veral met lockdown nou op vlak 3.

“Die gebied was stil tydens vlak 5, want almal moes binne bly, met net die polisie wat die strate gepatrolleer het,” sê hy.

“Die buurtwag mag eers patrolleer nadat ál die vlakke verby is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters