5 maande gelede
Dié Kersfeespot maak harte bly
almal is een: Kyk hoe sit hulle die fees in Kersfees vir kindertjies en ouers. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Laat die kindertjies na my toe kom.

Dis die Bybelse opdrag wat die gemeenskap elke jaar hier uitvoer met sy Kersboom-viering met lekkergoed en ’n reuse-pot potjiekos.

Juanita Pretorius, een van die organiseerders, vertel hoe hulle byna 500 kindertjies en ouers se harte happy maak.

“Elke jaar maak ons ’n geskenkpakkie op vir minderbevoorregte kinders en hou ’n Kerspartytjie. Elke pakkie het ’n McDonald’s-speelding en -ballon, skyfies, ’n pakkie koekies en lekkers.

“Almal kry ’n heerlike bord potjiekos en koeldrank.

“Ná die tyd eet, kuier en dans groot en klein net lekker saam. Danksy goeie ondersteuning van verskeie besighede en individue uit die gemeenskap kon die inisiatief die afgelope ag jaar ’n instelling word.”

Straatkinders

Johnny Pokpas, ’n ouer, se hart loop oor van dankbaarheid. Hy sê: “Vanjaar was die droogte erg vir die seisoenswerkers wat geen inkomste het nie. Laat staan nog geld vir Kerspartytjies.

“Selfs die straatkinders vind baat hierby, want baie van hulle try darem om anders van die partytjie terug te kom.”

Nathan Overmeyer sê: “Dis gemeenskap-Kerstyd vir die kinders van Calitzdorp. Baie dankie aan die baie borge vir die kos, lekkergoed, koeldrank en skyfies.”

Aan die ouers en omstanders is ook ’n bord potjiekos bedien. Die massiewe pot kon meer as 400 mense voed.

Die mense juig: “Juanita Pretorius en jou ongelooflike man, julle ouens rock!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters