2 maande gelede
Cracker beseer kid
groot skrik: Miltone Patties sê hy het gehoor hoe sy kind buite skreeu van die pyn.Foto’s: MPUMI KIVA  ~ 

GEORGE. – Die cracker kon die seuntjie blind gelaat het.

Jevandra Patties (7) het sy oë beskadig toe hy onlangs met ’n klapper gespeel het.

Dié jong mannetjie van Lawaaikamp het buite saam met ’n paar ander laaities met klappertjies gespeel toe een van hulle ontplof en in sy oë skiet.

Nou wil inwoners druk uitoefen dat spaza shops nie meer klappers in hulle gemeenskap verkoop nie.

Jevandra is direk ná die voorval na die hospitaal geneem en almal is net verlig dat hy nie sy sig verloor het nie.

Sy pa, Miltone Patties, vertel: “Ek het binne die huis gesit toe ek my seun buite hoor skreeu.

“Hy en die ander seuntjies het met die klein klappertjies gespeel.”

“Ek is net bly dat hy nie blind is nie. Maar daar is baie brandwonde rondom sy oë en ek moet hom nog steeds daarvoor behandel.”

eina! Jevandra Patties (7) wys die brandmerke rondom sy oë waar die klapper hom getref het.

Dennis Lambert, ’n gemeenskapsleier, meen hierdie voorval moet vir almal ’n wake-up call wees.

“Hy kan gelukkig wees dat hy nie sy sig verloor het nie.

“Ons bly hamer daarop dat crackers baie gevaarlik is. En daarom gaan ons nou druk uitoefen op spaza shops om nie meer die klappertjies te verkoop nie.”

Gevaar

Met die naderende vakansie en big days waar klappers so gewild is, maan hy ouers om hulle kinders te alle tye op te pas en te sorg dat hulle nie alleen met klappers speel nie.

Aldumar Bisser, ’n shopkeeper van Lawaaikamp, sê: “Ek kan bevestig dat leiers hier kom praat het dat ons nie aan die kinders crackers moet verkoop nie.

“Ons verstaan die probleem en besef ook die gevaar wat dit inhou.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters