10 dae gelede
Covid-lyer ‘by sentrum verkrag’
SPOT: Die jong Covid-pasiënt is na bewering hier deur ’n skoonmaker verkrag.  ~ Keith Meyer

MOSSELBAAI. – Covid-19-pasiënte behoort veilig te voel in kwarantyn-sentrums.

By die PetroSA-kwarantyn-sentrum net buite Mosselbaai is ’n weerlose vrou (20) egter na bewering verkrag.

Kwarantyn-fasiliteite is onder die voogdyskap van die departement van vervoer en openbare werke.

’n Bron vertel: “Die girly is gerape deur ’n skoonmaker en toe wou die mense dit dig hou. Gelukkig is daar laas Vrydagmiddag op die ou toegeslaan.

“Daar word ook bespiegel hy’t reeds ’n kriminele rekord, maar gunswerwing en kontakte met management het die job secure.”

Jandré Bekker, Wes-Kaapse woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke (DVOW), het by navraag gesê: “Fasiliteitsbestuurders is aangestel om die bestuur van die fasiliteite namens die DVOW te behartig. Van hierdie funksies sluit in sekuriteit en skoonmaakdienste.

Samewerking

“Die DVOW het ’n verslag ontvang van ’n beweerde seksuele aanranding by die kwarantyn-en-isolasiefasiliteit in Mosselbaai.

“Die DVOW neem sulke bewerings baie ernstig op en ons gee ons volle samewerking aan die ondersoek.”

Sers. Chris Spies, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 27-jarige verdagte aangekeer is vir die beweerde verkragting.

“Nie die DVOW of fasiliteitsbestuurder is bewus van enige kriminele rekord van die verdagte nie, en daar is geen verwantskap tussen bestuur en die verdagte nie,” het Bekker bygevoeg.

Die vermeende slagoffer is deur die gesondheidsdepartement na ’n ander fasiliteit geneem en sy ontvang die nodige ondersteuning.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters