16 dae gelede
Cops sê nugter oom is dronk
VERNEDER: ’n Cop het oom Theuns Januarie vir ’n dronkie aangekyk en daai likes hy niks.  ~ Keith Meyer

OOM Theuns Januarie (64) sê sy vryheid is van hom weggevat toe hy onlangs wederregtelik saam met ’n klomp dronkies in ’n vên moes ry.

Volgens Januarie het hy vasgestel daar mag kragtens lockdown-regulasies net twee mense agter in ’n vangwa wees, maar daar was ses.

Januarie kla: “Ek was daardie dag by die apteek om hoesstroop te gaan koop.

“Toe ek uitkom, toe sien ek die vangwa en ’n klein poliesvroutjie kom na my aangestap.

“Sy vat my en vra: ‘Waar bly jy?’ Toe sak sy wragtag af ek is dronk! En ek drink dan nie eens nie. Sy wou na niks luister nie.”

Die voorval het in die hoofstraat gebeur en volgens Januarie is hy erg verneder omdat baie mense dit gesien gebeur het.

Hy vertel: “Toe hulle my na die vên neem, toe is daar reeds manne in. Hulle skree toe almal: ‘Maar die oom is nie dronk nie! Die oom drink nie eens nie!’

“Maar nee, ek is in die vên in. Hulle wou na niemand luister nie.”

Volgens die ander ouens het hulle by die polisiestasie weer vir oulaas probeer om die cops te oortuig om Januarie te laat gaan.

Ondersoek

Hy vertel: “Dis tóé dat die cop van Zoar vir my sê: ‘Jy kan maar loop.’ Ek is nie eens ’n kans gegun om my saak te stel of ’n saak te maak nie.”

Deidre Foster van die Wes-Kaapse polisieombudsman het bevestig dat die voorval ondersoek sal word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters