Verlede maand
Cops kom laai ma vir moord
ERG: Dié vrou is geskok dat haar ma nou op ’n klag van moord tereg sal moet staan.  ~ Keith Meyer

VIR haar is dit soos ’n nagmerrie waaruit sy hoop om wakker te word.

Só vertel ’n jong vroutjie van Royal Heights in Calitzdorp nadat haar ma die afgelope naweek gearresteer is op ’n moordklag.

Henry Pietersen (46) se saamleefmaat het hom na bewering Saterdag doodgelem.

Die vroutjie, wat ook ’n mammie is, vertel: “Ek was baie geskok. Moenie oordeel nie. Ek het uitgeslaap by familie daardie aand.

“Maar die slagoffer het ook maar baie met my ma baklei.

“Almal weet dit, maar ek gaan nie ’n oorledene swart smeer nie.

“Die reg moet nou sy gang gaan. My ma bly my ma.”

Ene Boy, wat glo alles gesien het, vertel: “Die antie en oom het daai aand gestry. Daar was drank betrokke.

“Hy is die huis uit en sy’t met ’n mes in die hand gestaan en hom gesteek. Eers in die maag. Toe is sy agter hom aan. En toe hy omdraai, toe steek sy hom weer.

“So het dit maar elke naweek gegaan.”

Magdelena Karelse, Pietersen se niggie, is hartseer.

“Hy was al so bang vir haar.

“Baiekeer het hy maar weggehol van haar af.

“Sy het nog vir my kom haal en gesê sy het Henry gesteek.

“Toe vra ek nog hoekom? Hoekom? Want sy het ’n dop ingehad.”

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê daar was ’n stryery tussen die verdagte en Henry Pietersen, die oorledene.

“Daar word beweer sy het hom met ’n mes uit die huis gejaag. Toe steek sy hom eers in die dy.

“Soos hy na die oop stuk veld geloop het, het sy hom gevolg en weer gesteek, in die skouer en bors.

“Hy het as gevolg van die wonde gesterf.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters