Verlede maand
Broers in dagga saak vra ontslag
Drie broers het in die hof in verband met dagga klagte verskyn  ~ Foto ter illustrasie

DIE verhoor van twee broers van Lesotho wat in 2016 buite Prins Albert weens die besit van dagga ter waarde van R239 000 in hegtenis geneem is, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof tot September uitgestel vir die uitspraak oor ’n aansoek om ontslag.

Lehloka en Rapulumo Makonyana word van die handel in en onwettige besit van dwelms aangekla.

Die polisie in Prince Albert het op 28 Oktober 2016 op die N1-snelweg beslag gelê op twee sportsakke met altesaam 119,75 kg dagga wat in ’n sleepwaentjie agteraan ’n minibustaxi was.

AO Jacobus Moolman, die ondersoekbeampte, het getuig die twee verdagtes het erken die sakke behoort aan hulle.

Gedreig

Eugene Roos, die twee se regshulpprokureur, vra die hof om hulle vry te spreek as gevolg van die swak getuienis van die staatsgetuies.

Hyron Goulding, die staatsaanklaer, staan die aansoek teë omdat daar volgens hom genoeg getuienis is om hulle skuldig te bevind.

Volgens Goulding is daar geen getuienis voor die hof dat die twee polisiebeamptes wat die beskuldigdes gearresteer het, hulle gedreig of aangerand het nie.

Die polisie het ook nie die twee uitgesonder nie en het ál die insittendes van die taxi geneem na die Prince Albert polisie­stasie, waar elkeen sy eie bagasie uitgeken het.

’n Passasier het ook getuig sy’t gesien toe die broers die drasakke op 27 Oktober 2016 in die Oos-Kaap in die sleepwa laai.

Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius. Uitspraak oor die aansoek is vir 15 September geskeduleer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters