Verlede maand
Brand lê kerk, huisies in puin
TOT NIET: Die vlamme het als verwoes.  ~ VERSKAF

LUTZVILLE. – ’n Gemeente voel bitter nadat hul kerk tot teen die grond afgebrand het.

Die kerkleiers, pastoor en die gemeente is gebroke noudat hul sinkgebou van aanbidding nie meer daar is nie.

Maandagoggend het daar ’n brand ontstaan en niemand weet wat gebeur het nie.

Giel Coetzee, ’n gemeenskapswerker, het baie emo­sioneel aan Son gesê die voorval het hul klein gemeenskappie geruk.

“In hierdie stadium kan ek nie sê wat gebeur het nie. Ál wat ek weet, is dat die kerk, ’n Hophuisie en ander sinkhuisies op die een perseel afgebrand het,” het Coetzee gesê.

Volgens hom is die kerk ’n paar jaar gelede op die een perseel gebou: “Op die groot perseel is daar ’n Hophuisie en dan ander sinkhuisies opgerig. Almal het afgebrand.”

Agt huisgesinne het alles verloor. Die kerk se banke, Nagmaalwyn, musiekinstrumente en die sound system is tot niet.

Kritiek

Die gemeente moet nou van vooraf begin en sal Sondag ’n opelugdiens op die perseel hou. Daarna sal hulle planne beraam om weer hul kerk te bou.

Intussen kry die huisge­sinne by families huisvesting.

Volgens Coetzee is twee minderjarige kinders weens rookinaseming vir behandeling opgeneem.

Hy het dié kinders se toestand as kritiek bestempel.

Mense wat graag skenking wil doen, kan Coetzee bel by 061 783 0755.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters