Verlede maand
‘Brand g’n ongeluk’
VRAE: Nico Niewenhuys glo nie sy broer se dood was ’n ongeluk nie.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Hier’s misdaad betrokke...

Só vermoed die familie van die paartjie Frankie Cupido en Karin Manuel, wat net langer as ’n maand gelede hier dood is nadat ’n huis vlamgevat het.

“Aikôna, ons vermoed gemene spel en dat iemand hulle vermoor het en tóé die huis aan die brand gesteek het,” sê Karin se duidelik ontstelde broer, Nico Niewenhuys.

“Daar is ’n stuk vleis en ’n stuk van ’n T-shirt op die toneel gevind, maar die speurders het hulle nie eens aan dié bewysstukke gesteur nie. Verder is hul liggame in ’n stoorkamer gevind.

“Hoe moes hulle in die stoorkamer kom as hulle in die huis was? Ons vermoed die liggame is daarheen gesleep voordat die brand gestig is,” het Nico gesweer.

Sunette, Karin se suster, het ook vroeër gesê: “Daar is stories... maar ons glo dit sal uitkom.”

Maar Nico beweer die speurders wil die saak sluit “sonder ’n deeglike ondersoek”. Hy sê as dít gebeur, sal hy die saak na ’n hoër gesag neem.

Ook die familie van Cupido het gesê hulle sal nie rus voordat die waarheid uitgekom het nie.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Onderhoude is deur die speurbevelvoerder gehou met diegene wat beweer dat daar gemene spel betrokke was.

Nadoodse

“Tans is daar egter geen stawende getuienis, ook na aanleiding van die brandweerverslag, dat daar wel gemene spel betrokke was nie.

“Voorlopige nadoodse ondersoek dui daarop dat die slagoffers versmoor en toe verkool het.

“Die geregtelike doodsondersoek duur voort.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters