Verlede maand
Borgtog is geweier ná derde saak
Breyton Bruiners sal in aanhouding bly nadat borgtog geweier is.  ~ Foto ter illustrasie

BORGTOG is in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan ’n man wat van verkragting aangekla word en ook twee hangende sake teen hom het – een van moord en een van poging tot moord.

Breyton Bruiners (25) van Oudtshoorn is een van vier verdagtes in die moordsaak van Justin Booysen van Rosebank.

Bruiners is ook ’n verdagte in ’n saak waar hy na bewering in 2019 ’n man naby die Bongolethu Tavern met ’n mes in die bors en kop gesteek het.

Hy word nou daarvan aangekla dat hy op 12 Julie vanjaar ’n 19-jarige vrou verkrag het.

In sy beëdigde verklaring sê Bruiners hy gaan onskuldig pleit omdat hy nie eens op die toneel was nie.

Onderonsie

Volgens hom was hy die vorige dag in ’n onderonsie met die klaagster se kêrel.

Hy vermoed dat dít die rede is waarom sy hom van verkragting aangekla het.

Hy het die hof om borgtog gevra omdat hy van die begin af sy samewerking aan die polisie gegee het en as leerder van ’n vaardigheidskool in Oudtshoorn graag sy skoolloopbaan wil voltooi.

Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het borgtog teengestaan omdat Bruiners weer van ’n ernstige misdryf aangekla word terwyl hy op borgtog was.

Landdros Stephanie Stry­dom het gevolglik borgtog geweier en die saak tot vandag uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters