Verlede maand
Bloues te vinnig
Vas: Dis net hier waar die cops voortvlugtiges in ’n kar geblok het. Foto: keith meyer  ~ 

ZOAR. – Die boodskap is duidelik: Roete 62 is nie vir merts nie.

Dít is weer bewys toe “manne in groen” in ’n Toyota Tazz probeer wegjaag het van die bloues.

’n Roadblock in die Huisrivier­pas tussen Zoar en Calitzdorp was die einde van die jaagtog.

’n Polisiewoordvoerder, AO Jannie Cedras, sê: “Die polisie­ het inligting opgevolg dat ’n silwer Toyota Tazz van Oudtshoorn na Zoar op pad is met dwelms.

“Toe die bestuurder die polisie­ gewaar, het hy vinnig ’n U-turn gemaak en teruggejaag na Calitzdorp.

“Ons het die voertuig agterna gesit en gesien die insittendes gooi goed by die vensters uit.

Soektog

“Die voertuig het gestop en die bestuurder en ’n passasier het die veld in gehardloop.

“Twee passasiers het in die kar bly sit. Die bestuurder en passasier is ná ’n soektog aangekeer.”

Daar is beslag gelê op ’n groot getal Mandrax-tablette en dagga­.

’n Klag van roekelose en nalatige bestuur en die handel in Mandrax en dagga word ondersoek.

Past. Hendrik Rademeyer, ’n bekende in kerkkringe en gemeenskapsleier, loof die cops.

Rademeyer sê: “Óns polisielede is van ’n ander stoffasie.

“Hulle werk goed saam met die gemeenskap en duld nie dwelms nie. Ons bid die seën op hulle werk.”

  • Die provinsiale ingrypings­taakspan is Dinsdag ingelig oor ammunisie en dwelms wat in ’n jaart in Cavelerialaan in Scottsdene, Kraaifontein, aangehou word.

Die polisie het ’n verdagte met ’n graaf in sy hand in die jaart gekry en hom ondervra.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, is ammunisie van verskeie kalibers, 106 sakkies tik en 50 Mandrax-tablette gevind.

Rwexana sê ’n 20-jarige man is gearresteer vir die besit van ammunisie en dwelms.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters