2 maande gelede
Blinde kry kans
dis sulke tyd: Gerhard Ferreira (tweede van links) teken sy boek. Links staan Rachel Williams, bestuurder van George se biblioteek, Ina Ferreira, Gerhard se vrou en Malibongwe Luyenge, senior bibliotekaris by die George-biblioteek.Foto verskaf  ~ 

DIE George-biblioteek het ’n blinde skrywer, Gerhard Ferreira (70), die geleentheid gegee om sy boek – Ons Moet Spoeg om te Sien Hoekom Ons nie Kan Sien nie – aan genooide gaste bekend te stel.

In die gees van liefdesmaand was die tema “A Blind Date with a Book”.

Dit was nie die amptelike bekendstelling nie, maar slegs ’n voor­lesing van sekere dele van die boek in die voorportaal van die George­-biblioteek.

Ferreira, ’n blinde afgetrede bestuurder van opleiding en afrigting in die sakebankafdeling, het vele dekades terug as seun stadig blind geword.

Die boek bevat van sy mees gewilde stories en het so pas by Naledi verskyn.

Die stories handel oor die wel en weë in die lewe van ’n blinde persoon in ’n sienende wêreld, met die klem op die humoristiese en komiese situasies waarin ’n blinde persoon hom dikwels kan bevind.

Hy het sedert 1985 gereeld as gasspreker by baie groot maatskappye se funksies opgetree.

Hy het reeds twee keer by die MultiRand Forum – ’n prestigeryke geleentheid in die versekeringsbedryf – en SA Sakevrou van die Jaar-geleentheid opgetree.

Behalwe ’n suksesvolle loopbaan in die kleinhandel, mannekragbestuur, rekenaarprogrammering en kliëntediens, het hy baie in sy persoonlike lewe vermag.

Ferreira se blindheid het hom nie teruggehou nie en hy meen sy humoristiese uitkyk op die lewe help hom baie.

In sy lewe het hy reeds die Comrades- en New York City-marathon, asook vele ander, voltooi.

Gelukkig

Hy het Kilimandjaro geklim en ook tot by die Berg Ama Dablam-kamp in die Himalaja.

Sy vrou, Ina, sy twee kinders én kleinkinders motiveer hom om normaal en gelukkig te leef.

Ferreira se redes vir die boek is: “Ek hou daarvan om mense te laat lag en my kinders het gesê ek moet my stories neerskryf sodat dit behoue kan bly.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters