2 maande gelede
Bitou sal moet hoes
Die Bitou-munisipaliteit moet opdok nadat hul appèl teen 'n vorige uitspraak van die hand gewys is.  ~ Argief

DIE Bitou-munisipaliteit in die Suid-Kaap moet nou die regskoste opdok nadat die arbeidsappèlhof sy appèl van die hand gewys het.

Dit kom nadat dié munisipaliteit teen ’n vroeëre uitspraak geappelleer het wat die heraanstelling van die munisipale bestuurder Lonwabo Ngoqo ongeldig verklaar het.

Ngoqo het op 1 Maart 2008 in die pos begin. Hy is egter op 5 September 2011 aangekla in verband met die koop van sekere eiendomme.

Die munisipaliteit het hom op 7 Februarie 2012 afgedank nadat hy in ’n dissiplinêre verhoor, waar ’n afgetrede regter in beheer was, op sekere van die klagte teen hom skuldig bevind is.

Die munisipaliteit het Ngoqo toe in Februarie 2019 in sy pos heraangestel en aan hom ’n settlement-bedrag van R781 184 uitbetaal.

Omseil

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het dié besluit by die arbeidshof gaan challenge.

Bredell se woordvoerder, James-Brent­ Styan, sê die minister het besluit om die munisipaliteit en Ngoqo hof toe te sleep nadat hulle klaarblyklik probeer het om die wet te omseil.

Die arbeidshof het in Augustus 2019 bevind die munisipaliteit se besluit was onwettig en die settlement en die heraanstelling van Ngoqo is ter­syde gestel.

Die munisipaliteit het toe teen dié vonnis geappelleer en hierdie appèl is nou van die hand gewys.

Die munisipaliteit is verder beveel om Bredell, sowel as die Plettenbergbaai-belasting- en -inwonersvereniging (sesde respondent) se regskoste te dra.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters