21 dae gelede
Bewyse pile op
BESKULDIGDE: Justice Mooi in boeie by die hof.Foto’s: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Die bloed op twee messe en ’n hamer wat langs die Mosselbaai-pad opgetel is, is dié van die vermoorde soldaat Preston Titus­.

Preston (49) is op 1 Desember 2017 in sy slaapkamer op die plaaslike weermagbasis vermoor.

Sy vrou, Magdaleen, en haar medebeskuldigdes, Natasha Stuurman, Justice Mooi en Masimthebe “MJ” January, staan tereg op klagte van moord met voorbedagte rade en regsverydeling. Hulle pleit onskuldig.

Die staat het gister ’n verslag oor die wapens as bewysstuk by die hof ingedien ná die getuienis van maj. Frederick Viljoen van die weermag.

Hy het dié waarskynlike moordwapens asook bebloede kledingstukke langs die pad naby die Kandelaarsrivier gevind.

Heining

Viljoen het getuig kapt. Deon Bouwer van die SAPD het hom gevra om te help met die op­sporing van die moordwapens.

Hy en ’n vriend het op 17 Desember 2017 met hul motorfietse in die rigting van Mosselbaai gery om daarna te gaan soek en hulle het dit agter ’n heining sien lê.

AO Quinton Mei is die eerste polisieman wat op die moordaand by Titus se huis aangekom het.

Mei het getuig hy was op patrollie toe twee mans hom voorkeer en versoek om na die moordhuis te gaan.

“Ek het ’n manspersoon in een van die slaapkamers aangetref waar hy op sy sy gelê het met ’n selfoon naby sy regterhand. Daar was baie bloed en ek was nie seker of hy dood of lewend is nie.

“Ek het dadelik die paramedici gebel.”

Volgens Mei was daar nie ’n duvet of ’n kussing onder Preston nie en ook nie ’n mat in die gang, soos wat ’n vorige staatsgetuie getuig het nie.

’n Klein venster in die kamer was oop, maar verder het hy niks snaaks waargeneem nie.

Daar was geen bloed in die kombuis of gang nie en die slag­offer se vrou, Magdaleen, was in so ’n toestand dat hy glad nie met haar kon praat nie.

Hy het gesê sy het kort daarna in die kombuis flou geval.

Hy het ook getuig by sy aankoms was daar ’n sterk reuk van pepersproei in die huis.

Paulton Jacobs, ’n vriend van die Titus-familie, het gister getuig hy het die slagoffer se oudste dogter, Penélope, op die betrokke aand ’n geleentheid huis toe gegee.

Sy het aan die agterdeur en aan haar pa se kamervenster geklop, maar nie antwoord gekry nie.

“Sy het toe haar pa gebel omdat hy altyd die een was wat die deur vir haar oopgemaak het – sonder sukses.

“Dis tóé dat ons haar ma hoor skree en sy by die agterdeur uitstorm. Ek is in die huis omdat ek gedink het dit is rowers of ’n slang.”

Elvin Jansen, ’n taxibestuurder, het getuig iemand het hom op 29 November 2017 gebel om iemand vanaf Port Elizabeth saam te bring na Oudtshoorn.

Hy het getuig by die opklim-plek in Port Elizabeth het twee mans, onder wie Justice Mooi, aangestap gekom. Naby De Rust het Mooi ’n oproep gekry en die selfoon vir hom gegee.

“ ’n Vrouestem het my gevra om Mooi by die Oudtshoorn-begraafplaas af te laai.

“Albei mans het daar in ’n donkerkleurige Hyundai geklim wat vir hulle gewag het.”

Ken

Hy kon nie die bestuurder sien nie.

Volgens Mooi se regsverteenwoordiger, adv. Stoffel Prinsloo, sal hy getuig hy ken nie die persoon wat saam met hom in Port Elizabeth in die taxi geklim het nie.

Jansen het dit egter as onwaarskynlik beskryf omdat hulle saam na die taxi gestap, saam uitgeklim en in die taxi gesels het “soos mense wat mekaar al jare ken”.

Dinah Gelant, die Titus-egpaar se huishulp, het getuig die mat in die gang was altyd daar en sy het die sydeur wat die aand van die moord oop was, die betrokke dag self gesluit.

Regter Nolwazi Boqwana het die saak tot Maandag uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters