9 dae gelede
‘Bekyk cop shop’
KOMMER: Inwoners luister hoe die sake vorder van diegene wat in polisie-aanhouding dood is.  ~ Clive Pretorius

HEIDELBERG. – Die dood van die eerstejaar-verpleegstudent Nicolin Davids (26) blyk steeds ’n raaisel te wees.

Davids het laas jaar tydens die dorp se jaarlikse sportdagvieringe gesterf.

Sy dood is een van die gevalle waaroor ’n afvaardiging van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aan sowat 230 inwoners terugvoer kom gee het.

Davids se lyk is op ’n oop stuk veld by dié dorp se rugbyveld gekry.

Daar word bespiegel hy is op slag dood toe die polisie se “remand”-trok na bewering oor hom gery en sy gesig verbrysel het.

Die afvaardiging het inwoners Donderdagaand kom inlig hoe ver hulle gevorder het met die vier sake wat hulle op die oomblik ondersoek.

James Gelderbloem, die wyksraadslid, het die verrigtinge gefasiliteer.

Bygedra

Die aand is gelei deur Thabo Leholo, Opod se provin­siale direkteur, Mario September, adjunkdirekteur, Owen Anthony, ’n lid van die kantoor in George, en eerw. Chris Nissen, provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK).

Benewens Davids word die oorsaak ondersoek van die dood van Gerald Esau, Henry “Pielie” October en Jan “Bakkie” Esau. Daar word beweer polisielede se optrede het moontlik tot hul dood bygedra.

Esau het in Februarie 2016 in die hospitaal gesterf – maande nadat polisielede hom na bewering aangerand het.

October is op Dinsdag 29 September in die hospitaal dood nadat hy ook na bewering in die selle aangerand is. Esau is op 3 Oktober in die sel dood aangetref.

Leholo en September het die aanwesiges kortliks toegespreek oor hul rol in die ondersoeke en daarop gewys dat elke klag volgens meriete hanteer word.

September het beklemtoon dat hulle nie alles kan bekend maak nie, maar hy het spesifiek na die vier genoemde klagte verwys.

Volgens hom is hulle nie tevrede met die vorige besluit oor Esau nie en hulle gaan dit op hersiening neem.

Terwyl September gepraat het oor die vordering met Davids se saak, het sy ma, Esmerelda Liebenberg, die saal baie terneergedruk verlaat. Sy’t nie teruggekom nie.

Volgens September is Davids se saak klaar ondersoek en na die direkteur van openbare vervolging (DOV) verwys.

Benadruk

Hy’t dit duidelik gestel dit sou nie die laaste uitweg wees nie as hulle as Opod ontevrede is met die DOV se bevindings. “Ons kan dit op hersiening neem en verder verwys.”

Met verwysing na October se geval het September benadruk die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium. “ ’n Paar verklarings moet nog bekom word voordat dit na die DOV verwys word.”

Nissen het gedurende sy insette benadruk dat elke saak sy eie meriete het.

Hy’t ook bevestig dat die SAMRK die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Yolisa Matakata, gaan versoek om die Heidelberg-polisiestasie dringend te ondersoek.

Hy het gevra dat Heidelberg geduldig moet wees met die Opod-ondersoeke.

“Die Heidelberg-polisie se kultuur moet verander word,” het hy beklemtoon.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters