2 maande gelede
Begunstigdes ontvang hul aktes
VREUGDE: Tertuis Simmers oorhandig Maria Saaiman se titelakte.  ~ Clive Pretorius

SLANGRIVIER. – Ná meer as ’n jaar se gewag het nóg 41 eienaars Vrydag hul transportaktes as bewys van eienaarskap ontvang. Dít nadat 26 begunstigdes van die Asla Park-behuisingskema in dié dorp ook hul transportaktes ontvang het.

Dit bring die totaal in dié buurt te staan op 210 beguns­tigdes wat nou huiseienaars is.

Ten spyte van die dreigende pandemie, was die vreugde en blydskap agter die maskers van die begunstigdes duidelik te sien.

Weens die lockdown-regulasies het die afvaardigings van die provinsiale regering en die Hessequa-munisipaliteit by die plaaslike gemeenskapsaal ontmoet.

Hulle het daarvandaan na die begunstigdes se huise gegaan om die oorhandiging te doen.

Verbeter

Die delegasies is kortliks buite die saal deur minister Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir behuising, en Grant Riddles, Hessequa se uitvoerende burgemeester, toegespreek.

Simmers het Riddles en sy span bedank vir hul bydrae om dié inwoners se omstandighede te verbeter.

Abraham September (55), een van die begunstigdes, was in sy noppies.

Hy het gesê: “Dit is ’n groot oomblik in my lewe.

“Ek is opreg dankbaar vir dié titelakte.

“Ek het reeds my huis vergroot en ek sal dié dokument gebruik om my aspirasies te verwesenlik, aangesien ek nog groot planne vir my eiendom het.”

Nóg ’n begunstigde, Maria Saaiman (59), het uitbundig gesê: “Dit is die kersie op ons liefdesnessie en ek dank God en die minister wat dit moontlik gemaak het.

“Dit beteken die wêreld vir ons omdat ons ’n nalatenskap vir ons kinders en kleinkinders agterlaat.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters