Verlede maand
Begraafplaas nou dump site
uitgevang! Die vermetele man dump vullis in die begraafplaas.Foto: KEITH MEYER  ~ 

DIS vermetelheid in die ergste graad om ’n begraafplaas te gebruik as ’n dump­ing site.

Dié nare gewoonte het in Bergsig, Calitzdorp, kop uitgesteek.

Kakie Willemse kla: “Ek het persoonlik gesien hoe ’n ou sy vullis daar gaan dump.

“En weet jy wat in daai drom was? Hondestront! Dit word toe sommer langs ’n graf gegooi.

“Dis die toppunt van ongevoeligheid. Die hel staan iemand te wagte as ek hom vang my geliefdes se grafte so ontheilig.”

Verskeie hopies vullis ontsier die begraafplaas.

Nog ’n inwoner, Jaffie Appollis, sê: “Dis skandalig.

Skaam

“Die vullis word mos deur die raad verwyder. Sit jou vullis in jou swartsak en sit dit uit. ’n Begraafplaas is ’n plek waar mense in waardigheid moet rus.”

Katriena Willemse sê mense kan die vullishope van die nasionale pad af sien en dit maak haar skaam.

Reggie Timmie, ’n kantoorbestuurder by die raad, was verontwaardig toe hy hiervan hoor.

Hy sê: “Ek sal onmiddellik mense uitstuur om te gaan kyk wat aangaan. Ek doen ’n beroep op ons inwoners wat dit doen om dit te stop.

“Diegene wat sien ander stort vullis daar word gevra om dit aan te meld.

“Saam hou ons ons pragtige dorpie skoon.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters