8 dae gelede
Bedrieër kry 3 jaar huisarres
Emmerentia Weyngaardt staan tereg op bedrogklagte.  ~ Foto ter illustrasie

OUDTSHOORN. – ’n Voormalige ontvangsdame van ’n gastehuis op Schoemanshoek is in die streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas nadat sy skuldig bevind is aan twee van drie bedrogklagte.

Emmerentia Weyngaardt (34) is daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 op bedrieglike wyse meer as R557 000 van Wolfgang Beitz se geld in ander bankrekenings oorbetaal het. Beitz is die eienaar van die Montana-gastehuis.

Weyngaardt is daaraan skuldig bevind dat sy geld wat vir diensverskaffers bedoel was, in haar eie bankrekenings inbetaal het.

Gevangenisstraf

In Augustus 2015 het sy onderskeidelik R30 000 en R80 000 in die persoonlike rekening van ene Bradley Titus inbetaal, hoewel dit eintlik na ’n beleggings­rekening moes gaan.

Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra.

Weyngaardt se nuwe regshulpprokureur, Wenzel Botha, het egter ’n algeheel opgeskorte vonnis gevra.

Streeklanddros LA Wilkens het gesê ’n opgeskorte vonnis alleen sal nie gepas wees nie.

Hy het die beskuldigde vier jaar tronkstraf opgelê wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Sy is ook drie jaar korrektiewe toesig gegee, wat beteken sy is vir die volle tydperk 24 uur per dag onder huisarres en mag net vir werk en kerk uitgaan.

Weyngaardt mag ook nie dwelms en alkohol gebruik nie en sy moet 18 uur per week gratis gemeenskapswerk doen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters