3 maande gelede
Baie mors AllPay
droë keel: Daar gaan die eerste AllPay-aankoop: bier.  ~ 

DIT neuk AllPay-dae maar oral in die Suid-Kaap.

En wat menige gemeenskapswerker veral kwaad maak, is dat Sassa-begunstigdes hulle broodnodige toelaes misbruik om drank en drugs te koop.

Son het al baie opgemerk dat begunstigdes op AllPay-dae van die betaalpunt af reguit kantien toe loop.

’n Bekende gemeenskapsleier van Ladismith, David Opperman, sê: “Mense, die lewe is so duur. Die government bedoel dit so goed, maar baie van ons mense – nie almal nie – trek dit deur hulle kele.

“En dít net om die kantienbase en druglords se beursies dik te maak.

“En dan koop hulle vir die kinders net 50c se wind-tjips.

“Boonop steel die kleinkinders nog die ou mense se geld omdat hulle hul PIN ken.”

Opperman meen almal is onder ’n godgegewe opdrag om by te dra tot ander se opvoeding en om ’n helpende hand uit te reik.

’n Bekende maatskaplike werker van Ladismith, Ramona Nortje, bied waardevolle wenke.

Nortje stel voor: “Sassa moet die begunstigdes deeglik inlig wanneer hulle aansoek doen vir die toelaes.

“Hulle moet opgevoed word oor die doel van die toelaes, finansiële bestuur en die opstel van ’n begroting.

“Die begunstigdes, en veral die bejaardes, moet hulle PIN gereeld verander teen gesinslede wat nie vertrou kan word nie.

“Die begunstigdes – en weer veral bejaardes – moet ook geleer word om die ATM self te gebruik, want dis omdat hulle so afhanklik van familielede is om hulle geld te trek, dat hulle ekonomies mishandel word.”

Nortje sê die begunstigdes kan iemand wat hulle vertrou – ’n kerksuster of buurvrou of buurman – vra om hulle Sassa-kaart te bewaar.

Sy sê ’n ander idee is dat Sassa-begunstigdes wat hulle geld misbruik, voor ’n paneel moet verskyn.

Gemonitor

Die begunstigde moet dan aan dié paneel verduidelik waarom hy of sy die toelaes so misbruik.

Nortje stel voor: “Hulle moet dan vir ’n paar maande gemonitor word.

“Sassa moet meganismes vir accountability skep omdat die ouers van kinders wat nie skoolgaan, steeds ’n toelaag kry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters