8 maande gelede
Army se hulp welkom, sê leier
HOU DOP: Die weermag patrolleer die afgelope naweek deur Power Town naby Mosselbaai.  ~ Foto Verskaf

DIE Wes-Kaapse Icosa-leier, Dawid Kamfer, verwelkom die ontplooiing van die weermag in die Tuinroete.

Kamfer, ’n raadslid in die Mosselbaaise munisipaliteit, meen die troepe sal help om wet en orde in die Suid-Kaap te handhaaf.

Volgens hom het inwoners ondanks die vlak 3-lockdown-regulasies, waaronder die strande gesluit is, voortgegaan om die wet te verontagsaam.

Die army is in die distrik ontplooi om die SAPD te help om die algemene regulasies toe te pas.

Dis nou onder meer die verbod op die verkoop van alkohol en die curfew tussen 21:00 en 06:00.

Die nasionale minister van polisie, Bheki Cele, is verlede week wyd veroordeel nadat hy aangekondig het die weermag sal in die Tuinroete ontplooi word om die strande saam met die SAPD te patrolleer.

Kamfer meen egter dit hang van die inwoners af om die hoë Covid-19-getalle af te bring.

Beveg

“Inwoners moet besef dat ons mense by die hordes siek raak en sterf.

“Die weermag is hier om te help en mense moenie nou kla dat die weermag hardhandig is nie, want as mense die reëls nagekom het, sou hul hulp nie nodig gewees het nie.”

Volgens Kamfer word alle hulp verwelkom om die corona-virus te beveg.

“As Icosa is ons erg bekommerd oor die Covid-19-getalle in die Tuinroete en ons verwelkom alle hulp wat ons kan kry.

“Die polisie het tans hul hande vol.”

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het verlede week in sy weeklikse virtuele perskonferensie gesê die Tuin­roete begin nou tekens wys van stabilisering wat nuwe Covid-19-gevalle betref.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters