15 dae gelede
Ant Ties vier 105de verjaardag rustig
MYLPAAL: Ant Ties het haar 105de verjaardag op Lentedag gevier.  ~ Clive Pretorius

SLANGRIVIER. – Ten spyte van die wêreldwye Covid-19-pandemie wat veral ons senior burgers se gesondheid bedreig, het dié dorp se oudste inwoner, Siena “ant Ties” Fredericks, nóg ’n mylpaal bereik.

Ant Ties het op Lentedag haar 105de verjaardag gevier.

Sy het dié besonderse dag stil-stil in haar geboortedorp saam met haar dogter Fransiena Pieters (64) gevier by wie sy woon.

Dit was rustiger as verlede jaar se vieringe.

Ant Ties vier dié merkwaardige ouderdom nog steeds in redelike goeie gesondheid en spog dat sy nie op enige medikasie is nie.

Sy is egter van ’n rolstoel afhanklik omdat haar bene die afgelope jaar of twee nie meer so sterk is nie.

Wat egter nog kommerwekkend is, is dat ant Ties steeds op dié rype ouderdom in ’n sinkhok saam met Pieters en haar gesin moet bly.

Volgens Pieters sukkel haar ma nie met veel kwale nie en hulle weet nie eens wanneer laas sy by die kliniek of hospitaal was vir ’n ondersoek nie.

Sy sukkel egter wel ’n bietjie met haar gehoor.

Haar man, Piet, het haar 20 jaar gelede ontval.

Hulle het drie dogters en een seun gehad. Laasgenoemde is ook al oorlede.

Sy het ook 10 kleinkinders, 18 agterkleinkinders asook 5 agter-agterkleinkinders.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters