13 dae gelede
Abusive pa kry 19 jaar agter tralies
'n Abusive pa gaan effektief 19 jaar agter tralies deurbring.  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – ’n Pa van Ladi­smith wat sy kinders by tye nie kos of water wou gee nie en een se been gebreek het, is in die streekhof gevangenisstraf van 21 jaar opgelê.

Daar was drie klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en een van kindermishandeling teen hom waarop hy skuldig bevind is.

Manuel Ngalo (30) het op 7 Maart 2019 sy tweejarige dogtertjie aan haar arm gevat en by die deur uitgegooi.

Op 10 November 2019 het hy die kind geslaan en van haar potjie geruk dat sy geval het. Op 19 Februarie het hy haar teen die bord van ’n bed en ’n sementvloer gegooi, op haar getrap en haar been gebuig.

Skroewe

Die aanklag van kindermishandeling het gegaan oor voorvalle in 2019 en 2020 toe hy geweier het om vir die kinders kos of water te gee. Hy het onskuldig gepleit en aangevoer dat die kind haar been gebreek het toe sy van ’n trappie geval het, maar luidens ’n mediese verslag is dit nie moontlik nie.

Volgens Elaine Plaatjies, die staatsaanklaer, het Ngalo die kind herhaaldelik aangerand omdat hy geglo het dis nie sy kind nie. Sy het haar been op twee plekke gebreek en loop vandag met skroewe in haar been.

Sy sesjarige kind het getuig hy moet geslaan word soos hy hulle geslaan het.

Werk

Streeklanddros Daniël Boks het Ngalo se getuienis as vals beskou en verwerp.

Hy was in ’n vertrouensposisie om na die kinders om te sien terwyl hul ma werk.

Sy verweer was algehele ontkenning ondanks verdoemende getuienis van die kinders, hul ma en selfs sy ma.

Die eerste twee klagte van aanranding is vir vonnis saamgeneem. Ngalo is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Op die klag van aanranding is hy tot 10 jaar gevonnis en vir kindermishandeling tot 4 jaar, waarvan 2 gelyklopend met die 10 jaar uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van 19 jaar.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters