Verlede maand
Aaptwak nie goed vir kids
so maak ekke: ’n Rastaman wys hoe die groentwak gerook word kort nadat dit gewettig is.Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

DIT neuk met ’n beduidende aantal minderjariges wat nou met dagga “speel” nadat die grondwethof die privaat gebruik gewettig het.

’n Pa van ’n 10-jarige laitie in Mosselbaai was na aan trane van moedeloosheid toe hy oor sy seun se daggarokery gepraat het.

Hy vertel: “Dit gaan woes onder ons jeug. Ons sal saam moet hande vat. Grootmense rook nou dagga in hul yardse legal.

“Nou dink die kloegoet hulle kan ook dit rook. Dis mos nie vir kinders nie en dit bly ’n dwelmmiddel.”

Ouers het dit duidelik gestel dat hulle skole en welsynsorganisasies steun wat wettige drug tests op kinders doen.

Nog ’n man, Piet Briekies, wat sterk hieroor voel, sê: “Die kinders ruk handuit en smokkel vir merts.

“Dissipline in huise en skole gaan gebukkend onder onbeheerbare kinders.

“Dit gebeur sodra die dagga uittrek. Dan raak hulle geïrriteerd en onbeskof.”

Eunice Strydom, ’n maatskaplike werker, het ouers gemaan: “Die feite is: Dagga is die gateway na ander dwelms. Dagga kan ’n sielkundige verslawing tot gevolg hê.

“Dagga, wat algemeen op straat te koop aangebied word, is ook nie so natuurlik nie, aangesien dit dikwels met ander goed gemeng word om dit goedkoper aan te bied.

Paranoia

“Dagga het ’n kalmerende effek op die gebruiker, maar kan tot depressie lei. Dit het ook tot effek dat mense se reaksietyd stadiger is – al besef hulle dit nie. Dit kan tot ongelukke lei, as ’n persoon sou bestuur.”

Volgens Strydom kan die oormatige gebruik van dagga tot paranoia lei.

“Mense wat dagga en alkohol gebruik, raak dikwels gewelddadig. Onder die ouderdom van 18 jaar is daar ’n moontlikheid dat die gebruiker dagga-psigose ontwikkel.

“Dagga-psigose se simp­tome is soortgelyk aan skiso­frenie. In sulke gevalle kon die kinders nooit weer ’n normale lewe lei nie. Hulle kon nie tot die arbeidsmark toetree nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters