24 dae gelede
Wiel draai vir jong bus-held
DROME WORD WAAR: ’n Splinternuwe toekoms wink nou vir Ashley Europa.  ~ Jonathan Lestrade

NIKS gebeur sonder rede nie.

Selfs nie eens as jy net goed vir ander wil doen en instinktief optree en ’n held raak sonder om daarvoor te vra nie.

Ashley Europa (24), die bloedjong man wat daagliks bus ry om by sy job as cleaner uit te kom, het hierdie jaar die Krismisboks van sy lewe gekry!

Golden Arrow het aangebied om hom aan te stel as ’n leerlingbus­bestuurder.

Kort nadat Son die berig oor Europa Maandag op die voorblad gehad het, het hy so ’n lekker oproep van die busdiens ontvang.

Vir Europa wink ’n splinternuwe jaar en ’n nuwe begin.

Nie net het Krismis vir die jong man vroeg gekom nadat hy verlede week die lewe van ’n bus vol mense gered het nie, die deure na ’n blink nuwe toekoms is nou oop – een wat sy lewensomstandighede kan verbeter.

Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder van Golden Arrow­, het aan Son bevestig Europa is gekontak.

Sy het gesê: “Golden Arrow kan bevestig daar is met Ashley kontak gemaak om hom die geleentheid aan te bied.

“Met die geleentheid en die hulp van ons opleidings- en assesseringsentrum kan hy sy leerling- en bestuurderslisensie bekom om passasiers te vervoer.

“Dit sal baie deure vir Ashley oopmaak en die moontlikheid insluit dat hy ’n professionele busbestuurder word.”

Dyke-Beyer het gesê toe personeel van die busdiens met Europa kontak maak, het hy die geleentheid met ope arms aanvaar en hy het baie gelukkig geklink.

Sy het bygevoeg: “In die nuwe jaar sal ons datums met hom reël sodat hy die nodige vaardighede en pa­pier­werk kan kry.

“Alle koste sal gedek word. Ons wil hê dat dit vir Ashley iets positiefs sal skep.”

Europa, van Tafelsig, het juis die afgelope Sondag met blink oë aan Son vertel hy sal ’n geleentheid om ’n rêrige bus-driver te word met albei hande aangryp.

Detail

Europa se storie het soveel mense se hart met die Krismis-spirit laat klop.

Hy het in detail vertel toe rowers toeslaan op die Golden Arrow-bus waarin hulle was, het hy die veiligheid van die ander passasiers bo sy eie gestel.

HERLEEF: Ashley Europa verduidelik aan Son hoe een van die rowers ’n gun op hom gerig het om sy selfoon te kry. Foto: Jonathan Lestrade

Volgens Europa kon hy net aan die ander insittendes dink.

Omdat die driver glo van skrik weggehol het, het Europa besluit om agter die wiel in te klim.

Hy het vertel hoewel hy geen opleiding of ondervinding het van passasiersbusse bestuur nie – of selfs eens ’n rybewys nie! – was die kere dat hy sy derra se Nissan Skyline bestuur het vir hom genoeg van ’n leerskool om te weet hoe om die groot voertuig te hanteer.

Die klong het selfs elke passasier by hul gereelde halte afgelaai nadat hulle die knoppie gedruk het. 

Europa is sedert dié dapper daad as ’n held bestempel.

Lesers het ook die “The Bus for Us”-maatskappy oorval om tog die klong uit te help.

Ten spyte van al die ophef was Europa gister soos ’n stroopsoet klong getrou op sy pos as cleaner in die stad.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters