Verlede maand
Waardeer ons oues, sê span
SPANWERK: Fountain of Hope se lede maak seker elke bejaarde kry ’n lekker bord gesonde kos.  ~ Jonathan Lestrade

“MOENIE vergeet van die bejaardes nie.”

Dít is die boodskap wat Vanessa Adams, die stigter van die Paarlse gemeenskapsorganisasie Fountain of Hope, met haar gemeenskap wil deel.

“Ons moet dankbaar wees vir hulle, vir wat hulle vir ons beteken, wat hulle vir ons gedoen het en nou nog doen,” sê sy.

Adams en haar span het vroeër in die week vir sowat 40 bejaardes ’n dankseggingsete berei.

Jayson Kleinschmidt, ’n deelnemer aan die gewilde Maak My Famous-talentkompetisie, het vir die bejaardes gesing terwyl hulle met ’n warm bord kos en lekkergoed bederf is.

“Ons is ook dankbaar vir die twee local besighede vir hul bydrae tot die middagete.

Omgee

“Ons weet baie van ons bejaardes kry nie altyd genoegsame voeding by hul huise nie en ons weet ook op ’n sekere tyd van die maand gaan dit maar skraps omdat hulle nog nie Sassa gekry het nie,” sê Adams.

Volgens haar is dit baie belangrik om die bejaardes te bederf en te wys ons waardeer hulle.

Adams verduidelik: “Ons wil hê hulle moet weet dat hulle nie alleen is nie en dat ons vir hulle omgee.

“Ons leer so baie van ons oumas en oupas en dit be­teken ook so baie vir hulle omdat daar sommige van hulle is wat alleen woon en dalk nie mense om hulle het met wie hulle kan praat nie.

“Baie tye stap ons verby mekaar en ons groet mekaar.

“Maar so ’n geleentheid om saam te kom, gee ons die kans om meer oor mekaar te leer en dan vind ons uit ons het so baie in common of jy is dalk familie.”

Adams spoor ook die jong mense aan om hul oumas en oupas te treasure.

“Ek het nie daardie geleentheid gehad nie en ek sal wát wil gee om ’n ouma en oupa te hê.

“So, kom ons waardeer hulle nou omdat hulle nie vir altyd hier gaan wees nie,” is haar raad.

HEERLIK: Vanessa Adams, die stigter van die Fountain of Hope-gemeenskapsorganisasie, en haar span bederf die bejaardes. Foto: Jonathan Lestrade
VERMAAK: Jayson Kleinscmidt, ’n deelnemer van die Maak My Famous talentkompetisie, het vir die bejaardes entertain. Foto: Jonathan Lestrade

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters