17 dae gelede
Vrou is ’n pilaar in haar gemeenskap
YSTER: Ná meer as vier dekades is Sophia Kannemeyer steeds ’n staatmaker in haar gemeenskap.  ~ Leon Bonthuys

“MENSE moet ’n passie kan hê vir die werk en ’n verskil kan maak in die gemeenskap.”

Só praat Sophia Kannemeyer (60), wat al 41 jaar lank ’n gemeenskapswerker in Kleinvlei in Eersterivier is.

Kannemeyer is een van die bekendste gesigte in Eersterivier wat in die gemeenskap werk.

Sy het in 1980 in Kleinvlei begin werk. Sy vertel Magrietha McDonald, Eersterivier se eerste burgemeester, het haar in die advieskantoor opgelei.

“Ek het as gemeenskapswerker begin en het met toelaes en pensioene gewerk. Ek was ook later in die gesondheidsforum.”

Sy was onder meer ook ’n stigterslid van die Kleinvlei-polisiestasie en het gehelp om die traumakamer daar oop te maak.

Kannemeyer het ook gehelp om die daghospitaal oop te maak en was in die forum van die daghospitaal.

“Ek was in die destydse raad van verteenwoordigers en het met pensioene en kindertoelaes gewerk.”

Sy vertel sy was ook by behuising betrokke. As die raad destyds die mense se krag afgesit of hulle uit hul huis gesit het, het hulle die mense se goed teruggedra.

“Ons het ’n goeie verstandhouding met die wit mense gehad en hulle laat verstaan die mense kan nie op straat sit nie.

“Reëlings is dan getref dat die mense die skuld kon afbetaal by die ou raad van verteenwoordigers.”

Haar politieke loopbaan het in 1995 in die kantoor van Gawa Samuels by die ou Nasionale Party begin.

Later was sy stigterslid van die DA se kantoor in Kleinvlei. Sy en Wilma Brady het die kantoor oopgemaak.

Sy is nou lid van Patricia de Lille se Good-party en is deesdae daarby betrokke om mishandelde vroue en kinders te help. Sy het ook opleiding ontvang vir kinderversorging.

Pensioen

Kannemeyer is voorsitter van Kleinvlei se uitvoerende behuisingskomitee, wat met backyard dwellers werk wat op ’n waglys is vir huise.

Kannemeyer vertel sy is nou amptelik op pensioen, maar sy doen steeds haar gemeenskapswerk.

Sy is ook steeds lid van die Bambanani-buurtwag in die gemeenskap en praat gereeld saam met Kleinvlei se polisie by skole oor veiligheid.

“Ek is dankbaar die Here het my die afgelope 41 jaar deurgedra,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters