5 maande gelede
Viva Ant Vivi!
voete jeuk: Die gaste het lekker gekringdans op die musiek van die Tygervalley Christmas Band.  ~ 
voete jeuk: Die gaste het lekker gekringdans op die musiek van die Tygervalley Christmas Band.
gee om: Antie Vivian Adams gee Ronique Schaffers van Wallacedene ’n bord lekker kos.Foto’s: Bohemia Hoffmeester
koningskos: Die kinders het skoons hulle lippe afgelek, so lekker was die ete.
musiek-ghoeroes: Die Tygervalley Christmas Band het die gaste vir mahala met hulle lekker tunes vermaak.
te lekker: Anna Smith vang gees terwyl die band speel.

MEER as 100 haweloses van Kraaifontein was gister vol smiles toe hulle met ’n Krismispaartie bederf is.

Antie Vivian Adams van Vivi se Sopkombuis het gister vir die tweede agtereenvolgende jaar vir haar gemeenskap ’n koninklike ete voorgesit.

Adams se gaste is met klere, geskenke en hampers vol kos gespoil.

Die Tygervalley Christmas Band het ook spesiaal vir die gaste kom speel.

Adams vertel haar seun, Darryl, se dood ’n paar jaar gelede het haar geïnspireer om opreg vir straatmense om te gee.

Sy sê haar seun het ook op straat gebly nadat hy aan dwelms verslaaf geraak het.

Adams sê Darryl se skietdood het haar so erg geraak dat sy na ander haweloses begin uitreik het.

’n Hartseer Adams vertel: “My seun se vriende het selfs ná sy dood steeds hierheen gekom.

“Ek het altyd vir hulle kos gegee.

“Ek het nooit niemand weggewys nie.”

Adams sê op haar 60ste verjaardag het die Here dit op haar hart gelê om meer vir haweloses te doen.

“Ek het vir my familie gesê ek wil nie ’n paartie hê nie.

“My broer het toe vir my ’n koevert gegee met ’n R500 daarin.

“Ek het eers nie geweet wat daarin was nie, maar toe ek sien, toe dink ek ek gaan myself met die geld spoil.

Dankbaar

“Toe ek in Shoprite kom, het die Here met my gepraat en gesê ek moet vir my ’n groot pot koop.

“Dis daar waar ek besluit het om gereeld vir die haweloses kos te maak.”

Anna Smith van Wallacedene sê sy is dankbaar teenoor Adams wat gereeld haar en haar gesin se magies voed.

Smith vertel: “Ek het nie woorde vir dit wat antie Vivi vir ons doen nie.

“Dis deur my kind dat ek haar vandag ken.

“My kind het gereeld vir kos aan haar deur geklop. Van toe af kry ons nou al twee jaar kos by haar.”

Smith was baie excited vir die hampers kos wat Adams aan hulle belowe het.

Hieroor sê sy: “Ek sien baie uit na die hamper.

“Ons skarrel maar elke dag en het niks in die huis nie.

“Ek het my hamper-nommer in my sak.”

Adams sê sy hoop om volgende jaar meer mense te voed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters