21 dae gelede
‘Verlore seun’ gee raad
MOTIVEER: Julian Plaatjies (36) gee raad oor hoe om op die straight en die narrow te bly.  ~ Salmon Smith

“MENG jou mettie semels, dan vreet die varke jou op!”

Dís mos hoe ouers destyds hul kinders teen verkeerde vriende gewaarsku het.

Julian Plaatjies (36) van die pragtige Bolandse dorpie Villiersdorp het dié stukkie lewenswysheid op ’n wrede manier geleer.

Vandag is hy ’n motiveringspreker en deel graag sy lewensverhaal met die jeug in die hoop dat hulle nie in dieselfde slaggat as hy sal trap nie.

Geskors

Plaatjies is al as kind aan dagga blootgestel. Hy was in gr. 7 in Laerskool Kosie de Wet in Villiersdorp toe hy daarmee begin eksperimenteer het.

“Op 17-jarige ouderdom is ek uit Hoërskool Emil Weder geskors oor ek begin probleme gee het. Ek is toe van daar na Villiersdorp Sekondêr, waar ek toe tik, Mandrax en dagga gebruik het.

“Ek is van daar tronk toe oor ek begin steel het. Ek is toe in gr. 8 uit die skool geskors en het in ’n probleemkind verander.

“My familie en die gemeenskap het my afgeskryf en ek het in ’n ou buitetoilet geslaap.”

Volgens Plaatjies het hy ses jaar gelede ’n ontmoeting met die Here gehad. Dít het sy lewe handomkeer verander.

“Dit het hard gereën daardie spesifieke aand.

“Ek was koud en honger. Ek het toe begin huil.

“Dís toe ek skielik ’n stem hoor wat sê: ‘Jy het alles probeer, maar niks het gewerk nie. Maar jy het nog nie vir mý probeer nie.’

“Ek het eers gedink ek vang tokkies, maar toe ek die stem weer hoor, toe weet ek dit is die Here wat praat.

“Ek het toe nie geweet watter kant toe nie en is sommer reguit na my buurman, apostel Abrahams van die Israel Laat Reëns-Pinkstergemeente hier in Villiersdorp.

Versoen

“Toe ek by hom kom, toe sê hy dat hy vir my gewag het. Hy het vir my gebid en ek is toe weer na daardie buitetoilet.

“Ek’t nog twee dae daar gebly, toe het ek gedink aan die gelykenis van die verlore seun. Ek het daar opgestaan en is reguit na my ouerhuis.

“Toe my pa die deur vir my oopmaak, het ons trane sommer behoorlik gevloei. Ons het toe versoen geraak.”

Vandag is Plaatjies ’n lid van dié gemeente en ’n motiveringspreker en jeugwerker. Hy gaan om by skole, kerke en gemeenskappe en praat oor sy lewe.

“Die pad na recovery was nie ’n maklike pad nie.

“Gelukkig het ek die regte leiding gekry. Vandag kan ek praat oor die tweede kans wat ek gekry het. Drugs is een van die grootse euwels wat ons gemeenskappe vernietig en ek weet waardeur ons jong mense gaan.

“Ek het geval vir dié euwel omdat my sogenaamde vriende druk op my gesit het en ek wou toe ook infit.

“Vandag kan ek getuig dat geen opregte vriend jou tot in die afgrond trek nie.”

  • Kontak Plaatjies by 078 969 3929 vir bookings.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters