9 maande gelede
Verloorders word wenners
op die wenpad: Al die finaliste saam voordat die wenners aangekondig is. Fotoverskaf  ~ 

NÁ HAAR suster se dood aan kanker het ’n vrou haar roeping besef – om mense langer en gesonder te laat lewe.

Daaruit is Claudia van Schalkwyk se 90 Day Wellness Challenge gebore.

En Saterdag by die spoggerige Le Franschhoek-hotel het ’n egpaar van Kuilsrivier, Johan en Rika Joosten, met die eerste én tweede prys weggeloop.

Die 60-jarige Johan het R10 000 gewen nadat hy in die 90 dae meer as 23 kg afgeskud het.

Sy vrou het R6 000 se gesig- en lyfskoonheidsprodukte gewen. Sy het ’n bietjie meer as 17 kg verloor.

Die 46-jarige Jennifer Juta van Eersterivier het 17,2 kg verloor en was derde.

Johan sê dis die eerste keer in sy lewe dat hy iets wen.

Hy sê sy vrou gaan gereeld vir manicures en pedicures by Claudia se salon en dis waar sy van die kompetisie gehoor het.

Vergeet

“Sy wou nog altyd gewig verloor. Toe dink ek okay, my tyd loop uit en ek moet nou ’n change maak.”

Hy sê die dieet bestaan basies uit groente en vrugte. Vergeet maar van melk en suiker. En daar’s ’n streng voorgeskrewe oefenprogram om te volg.

Rika voeg by daar was nie mededinging tussen hulle nie.

“Nee wat, ons het dit saam aangepak. Vir my was dit baie lekker, want ek kon ’n groot bak slaai opeet en steeds heerlik voel, want ek verloor gewig.”

Claudia het haar suster Leony Sonja de Wee op 3 Februarie verloor. Sy sê dit was vir haar ’n groot skok.

Sy het toe navorsing begin doen oor kanker en besef ’n gesonde leefstyl kan help om mense se lewensgehalte te verbeter.

Sy moes ook geld insamel om studente te help wat skoonheidsterapie aan haar Urban Beauty Academy wou studeer. Toe besluit sy om die twee saam aan te pak.

En só is die 90 Day Wellness Challenge gebore. Dit is as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer. Enige winste word gebruik vir behoeftige studente aan Claudia se skoonheidskool.

Bel haar by 021 829 9432 of admin@urbanbeauty.co.za vir meer inligting.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters