27 dae gelede
Veilige hawe kry nuwe tuiste
DANKBAAR: Lucinda Evans bars van trots oor die nuwe mylpaal wat sy vir vroue behaal het.  ~ Foto Verskaf

SELFS toe niemand haar wou help om ’n veilige hawe vir slagoffers van gendergeweld te skep nie, het sy dit vrou-alleen aangepak.

Lucinda Evans, die stigter van Philisa Abafazi Bethu, het Vrydag ná agt jaar haar safe house in ’n splinternuwe tuiste geopen.

Sy het uit Wynberg na die Kirstenhof-area getrek, sê sy.

Volgens Evans het sy etlike jare dié veilige hawe sonder enige befondsing staande gehou en dit was bitter moeilik.

Sy moes deeltyds werk om van haar droom ’n sukses te maak.

Evans bars van trots.

Sy sê: “Niemand wou glo dat daar spasie en ’n behoefte vir ’n veilige hawe vir mense in nood is nie.

“Ons glo daar is ’n behoefte en ’n groot gap in hierdie diens is vir ’n korttermyn- safe­ house vir slagoffers van geslagsgeweld.”

Evans sê dit was vir haar moeilik om afskeid te neem van die ou safe house oor almal baie goeie tye daar gehad het.

“Ons het vroue beskerm en selfs babas gevang.

“Ons het so baie gehuil, maar selfs ook baie joyous dae gehad waar ons aaneen gelag het.”

Evans sê noudat die safe house in ’n ander area is, sal hulle meer dienste aan die gemeenskap kan bied.

Sy sê sy kon dit nie alleen doen nie en is baie dankbaar vir ál die hulp wat sy gekry het.

Heining

Sy sê dit het hulle net vyf dae geneem om klaar te trek.

“Ons wil net dankie sê aan die eiendomsbestuurs­personeel van die Stad Kaapstad vir hoe glad die trek verloop het.”

Sy het ook TK’s Alarms and Installations vir die sekuriteit­stelsel, Perisecure vir die geëlektrifiseerde heining en Cape Gas vir die verskaffing van gas bedank.

“Ons emergency safe house­ is oop. Ons is gereed om slagoffers van geweld en geslagsgeweld te ondersteun.”

  • Bel Philisa Abafazi Bethu se noodnommer by 076 270 3050 of die beheersentrum by 0800 428 428.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters