’N ORGANISASIE sonder winsbejag wat in Paarl-Oos gebaseer is, het weereens sy hand na sy gemeenskap uitgereik.
Community Aftercare Sanitation Educare (Case) het onlangs skryfbehoeftes aan vier skole in Chicago, Amstelhof en Worcester geskenk.
Dié skole is die Primêre Skool Nieuwe Drift in Worcester en die NGK Primêre Skool Voor-Groenberg, die Primêre Skool Windmeul en die Primêre Skool Orleansvale in die Paarl.
Plastiek
Volgens ’n organiseerder van die veldtog, Leron Sauls, het sowat 125 kinders daarby baat gevind.
Sauls voeg by: “Dit is die begin van die veldtog vir kinders in gr. 4 en 7 by vier skole.
“Ons het aan die kinders skryfbehoeftes verskaf en ons het 1 875 boeke met plastiek oorgetrek.
“Ons belê in ons kinders se toekoms.
“Die skryfbehoeftes is verskaf aan die leerders wat dit die nodigste gehad het.”
Volgens haar het Case die nood in die gemeenskap gesien en ingespring om seker te maak die leerders se skooljaar begin minstens goed.

NOOD VERLIG: Leerders van verskeie skole in Paarl-Oos en Worcester het onlangs van dié stationery gekry om die skooljaar mee af te skop. Foto: Verskaf
Son
Sauls verduidelik hierdie inisiatief is deel van die organisasie se program om misdaad in die gemeenskap te verhoed.
“Ons help kinders vanaf ’n jong ouderdom sodat hulle kan besef daar is ’n ander uitweg as bendegeweld en misdaad.
“Die kinders en ouers is baie dankbaar dat ons kan help en waardeer dit opreg.
Hartlik
“Ons is ook besig met ’n pre-loved schoolwear drive om die kinders te help wat nie skoene en klere het nie, veral met dié dat die winter op pad is.”
Die Primêre Skool Nieuwe Drift het op sy Facebook-blad geskryf: “Nieuwe Drift Primêr wil graag vir Case NPO en Leron Sauls hartlik bedank vir hul betrokkenheid en ondersteuning met hul Case-uitreikprojek.
“Elke skenking, skryfbehoeftes en etes, het iemand se las help verlig!
“Baie dankie vir u energie en toewyding. Ons waardeer!”