9 dae gelede
UCCSA-dag gevier
Stilte: ’n Afgevaardigde van een van die kerke steek in die diens ’n kers aan terwyl die leraarspaar van die Weyers Memorial UCC, ds. Donald Moos en sy vrou, Nathalie, toekyk. Foto: Garnett Wicomb  ~ 

KERKE in sone 2 van die Outeniqua-streek het UCCSA-dag Sondag in die Toekomsrus United Congrega­tional Church in Oudtshoorn op luisterryke wyse gevier.

Gemeentelede van dié ag UCCSA-kerke – Bongolethu, Bridgton, De Rust, Oudtshoorn, Weyers Memorial, Calitzdorp, Toekomsrus en Dysselsdorp – het die diens bygewoon.

Dit was die 52ste herdenking van die stigting van die UCCSA (United Congregational Church of Southern Africa).

Prys

Eerw. Bennet Draai van die Henry J. Blazey Memorial Kerk in De Rust sê: “Die kerk moet die lig en sout wees om van die wêreld ’n beter plek te maak.

“Die kerk is daar vir aanbidding om God te loof en prys, met die hoofdoel die verkondiging van die Evangelie. Ons het egter toegelaat dat die wêreld die kerk regeer in plaas van andersom.”

Kerse is aangesteek vir vroue wat slagoffers geword het aan die hand van mans en vir almal wat aan kanker en MIV/vigs ly.

Daar is ook gebid vir almal op verkeerde weë, vir Zimbabwe en alle buitelanders wat in Afrika gesterf het, vir Mosambiek, Botswana en Namibië, en vir alle kerke om God se missie na te streef.

Die UCCSA is op 3 Oktober 1967 in Durban gestig toe die London Missionary Society, die Congregation­al Union of South Africa, die American Board Mis­sion en die Bantu Congregational Church saamgesmelt het.

Reis

Die eerste Sondag in Oktober is toe bepaal as UCCSA-dag, met die hoofdoel om fees te vier en te reflekteer op die reis tot dusver as ’n UCC-familie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters