12 dae gelede
Tyd vir smile!
DANKIE: Stacey-Lee en haar mamma, Eloise, voor haar groot operasie.  ~ Foto Verskaf

INTERNASIONALE sokkersterre help ook om smiles­ op Suid-Afrikaanse kinders se gesigte te sit.

Groot name soos Mesut Özil, Paul Pogba en Philipp Lahm was in die span wat in Smile Week saam met Smile Founda­tion 18 kinders met verskillende rekonstruktiewe operasies uitgehelp het.

Dié operasies het verlede week by die Tygerberg-hospitaal plaasgevind.

Smile Foundation, in samewerking met Big­Shoe11, het die bal aan die rol gekry om ten spyte van die pandemie operasies moontlik te maak vir kinders wat dit nodig het.

Lisa Kalk, woordvoerder van Smile Foundation, sê dis die eerste keer sedert die lockdown begin het dat kinders geopereer is.

Son het tevore berig oor hoe die pandemie die kinders se smiles weggevat het omdat dit te veel van ’n risiko is om op hulle te opereer.

“In die Tygerberg-hospitaal is 110 kinders se operasie weens die virus gekanselleer.

“Die doel van die operasies wat verlede week plaasgevind het, was om die agterstand as gevolg van die Covid-19-pandemie in te haal,” sê Kalk.

Een van die kinders is die negejarige Stacey-Lee, wat sonder ’n oor gebore is.

Toe Stacey-Lee in 2011 in die Eben Dönges-hospitaal in Worcester gebore is, het haar ouers tot hul skok ontdek sy het net ’n klein kraakbeen waar haar linkeroor moet wees.

SMILE: Danksy Smile Foundation en BigShoe11 is nóg 18 kinders gehelp. Foto: Verskaf

Haar ma, Eloise, het nie voor die geboorte vir ’n scan gegaan nie en die nuus oor Stacey-Lee se oor het hulle dus heeltemal onkant gevang. Eloise onthou dit was destyds vir Stacey-Lee se ouer broers en susters die moeilikste ding om te verstaan.

Maar dit het nie die familie afgebreek nie.

Struikelblok

Eloise sê hoewel die toestand vir die gesin ongelooflik moeilik was om te hanteer, moes en het hulle mekaar deur die uitdagings ondersteun.

Die mammie sê hoewel Stacey-Lee in staat is om normaal te funksioneer en tuis te wees, is haar grootste struikelblok haar skoolopleiding.

“Sy sukkel om te hoor en haar maats terg haar gereeld.

“Baiekeer moet haar onderwysers dinge herhaal sodat sy kan verstaan.

“Sy is baie skaam en speel net vir kort tydperke of wil glad nie speel nie, want haar maats terg haar gereeld oor haar toestand.

“Daarom is ons dankbaar. Dit was ’n lang pad tot hier. Eindelik gaan sy gehelp word en ons is so dankbaar.”

Ongelooflik

Hedley Lewis, uitvoerende hoof van Smile Founda­tion, het die werkers van die stigting en die Tygerberg-hospitaal geprys vir hul toewyding.

“Ons is ongelooflik gelukkig om met die toegewyde mediese personeel in die Tygerberg-hospitaal saam te werk.

“Dis hierdie onwrikbare toewyding van die personeel wat kinders soos Stacey-Lee in staat stel om ’n operasie te ondergaan wat haar lewe sal verander.”

HAPPY: Isange loop met sy kop omhoog nadat hy met ’n operasie gehelp is. Foto: Verskaf

Özil, wat vir die sokkerspan Arsenal speel, is lid van die BigShoe11-span.

Hy sê hy is baie gelukkig. “Ons doel is om die kinders te help. Ek is baie bly dat die mediese span uiteindelik met die projek kon voortgaan.

“Laat ons almal hoop dat dinge binnekort weer normaal sal wees sodat nog van dié lewensveranderende operasies kan plaasvind.

“Ek is baie trots daarop dat ek hieraan kan deelneem en saam met Smile Foundation kinders in nood te help.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters