3 maande gelede
Trots op taal
trots: Leerders pronk by hul nuwe muur. Foto: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Die Senior Sekondêre Skool Bridgton­ (SSB) se mure­ is nou bright.

Die skool het onlangs ’n kleurryke muurskildery onthul wat Afrikaans as taal bevorder.

Die muurkuns is ’n projek van Afrikaans.com, ’n organisasie wat hom beywer om Afrikaans by skole te bevorder en te laat voortleef.

Die SSB is die eerste skool in die Suid-Kaap en die 20ste in die Wes-Kaap wat met so ’n muurskildery spog.

“Afrikaans is ’n unieke taal,” het René Arendse van Afrikaans.com aan die leerders gesê.

Volgens haar is die doel van die projek om aan die gemeenskap te wys dat die skool trots is op Afrikaans.

“Jy moet trots wees op jou taal, jou moedertaal,” sê sy.

’n Oud-onderwyser van die SSB en beskermheer van Afrikaans.com, Danie van Wyk, het die skool aanbeveel vir die muurskildery omdat dit volgens hom ’n funksionele skool is waarop hy baie trots is.

Volgens hom is die oorgrote meerderheid van die Wes-Kaapse inwoners Afrikaanssprekend en behoort daar meer op die taal gefokus te word.

“Afrikaans is ons erfenis, ons nalatenskap en daarom moet ons dit eien.”

Ds. André Boezak van die Verenigende Gereformeerde Kerk Bridgton het leerders aangemoedig om in Afrikaans te skryf.

Kortverhale

Hy self het as 15-jarige begin skryf, maar dit het nege jaar geduur voordat hy dit aan iemand gewys het. Hy is aangemoedig om daarmee voort te gaan.

Vandag het hy vyf kortverhale, drie digbundels en twee dramas agter sy naam.

Ook die burgemeester, Colan­ Sylvester, ’n voormalige hoofseun van die skool, het leerders aangemoedig om die taal te bevorder.

“Dit is lekker om Afrikaans te praat en ek doen alles in my taal.”

Die skool se eie rymkletser, Jamian Kennedy, en die bekende Paul Amas het in Afrikaans gerymklets en gesing.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters