8 dae gelede
Tiener skryf misdaadroman
Emily Hart
Emily Hart, ’n matriekleerder by Hoër meisieskool Rhenish se eerste boek word Desember vrygestel.  ~ Emily Hart

WAT doen jy as jou land onder lockdown is, daar geen skool is nie en jy basies nerens kan gaan nie?

Wel 'n gr. 12 leerder het besluit sy gaan nie heeldag lê en slaap nie maar skryf.

Emily Hart, 'n leerder aan Rhenish meisieshoërskool, se eerste boek word in Desember bekendgestel.

Die 18-jarige het in gr.10 aan die misdaadroman begin skryf, maar daar was altyd skoolwerk om ook te doen. Sy het nou uiteindelik met lockdown die tyd gekry om haar boek te voltooi.

Hart vertel: "In 2018 het die dialoogtoneel in my kop gespeel en ek het dit vinnig neergeskryf. 'n Paar maande later het ek na die notas gekyk en gedink dat ek dit in iets kan omskep."

Sy sê dit het toe haar inleiding tot die roman geword. 

Hart noem sy was maar altyd mal daaroor om te skryf en onthou dat haar ouma haar kortverhale per pos gestuur het.

Lees het egter vir die tiener nie maklik gekom nie. Sy het tot gr. 3 'n geringe leesgestremdheid gehad, waar sy gesukkel het om woorde te lees en uit te spreek.

"Ek moes gedurende en na skool vir ekstra klasse gaan.

"Dit was nie maklik nie, maar toe ek dit oorkom, het ek geleer dat die wêreld van boeke nie so scary is as wat ek gedink het nie, en eerder 'n plek vir my verbeelding om asem te haal en te groei."

Hart sê sy beplan om te reis, die wêreld te sien, inspirerende mense te ontmoet en mense te herinner hoe lief Jesus hulle het.

"Die toekoms hou soveel moontlikhede in, soms moet ek myself daaraan herinner om net die nou te geniet."

Die ambisieuse tiener is tans besig met twee nuwe romans en beplan om volgende jaar met haar BA-graad in taal en kultuur aan die Universiteit Stellenbosch te begin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters