2 maande gelede
Tevin wil jonges in Kaap help
Speel-speel: Tevin Campbell bring 67 minute vir Mandela deur met siek kinders by die Rooi Kruis Oorloggedenkhospitaal vir Kinders. Foto’s: Melinda Stuurman  ~ 

TEVIN Campbell, die beminde Amerikaanse R&B-sanger, kan net nie genoeg van Kaapstad kry nie.

Campbell het onlangs die Rooi Kruis Oorloggedenkhospitaal vir Kinders besoek waar hy 67 minute ter ere van oudpres. Nelson Mandela deurgebring het.

Hy het lekker met die klein pasiënte van die oor-, neus- en keel-eenheid gespeel en gesels.

Maar dit was die kinders se ouers wat die ster se teenwoordigheid meer geniet het.

Campbell (42) het gesê dit was sy eerste keer in ’n hospitaal net vir kinders.

“Ek het baie geleer gedurende die uitstappie,” het die sanger opgemerk.

“Ek het dit vreeslik geniet by die kinders.”

Hy het verduidelik die experience by die hospitaal het hom baie laat dink.

“Ek wil nou meer weet. Ek wil ook graag betrokke raak by fondsinsameling vir die hospitaal.”

Die sanger is veral bekend vir sy hit “Can We Talk”.

Hy was in die Kaap om by Marmalade Productions se 10de bestaansjaarvieringe op te tree.

Die vieringe het in die vorm van ’n konsert by die GrandWest-casino gebeur.

Verskeie locals het ook opgetree. James Bhemgee, die operasanger van Kalksteenfontein, was Campbell se gunsteling.

Geslaan

Campbell onthou: “Ek was in my kleedkamer besig om reg te maak vir my optrede toe ek iemand ‘Ave Maria’ hoor sing. Ek het uitgehardloop om te gaan kyk wie dit is.

“Ek het ‘Ave Maria’ nog nooit só gehoor nie. Ek was stomgeslaan.”

Bhemgee en Sasha-Lee Davids het dié lied gesing.

Die PJ Twins van Bonteheuwel was ook cool, het Campbell gesê.

Hy het bygevoeg hy is elke keer verbaas oor sy ontvangs in die Kaap.

“Ek verdien dit nie. Elke keer dink ek daaraan om weer nuwe songs te skryf, maar ek weet Kapenaars hou van die ou songs en wil dit hoor.

“My tyd in die Kaap is altyd magical.”

Campbell is ná sy besoek aan die hospitaal na die Drakenstein-gevangenis in die Paarl. Mandela is in 1990 uit dié gevangenis vrygelaat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters