24 dae gelede
Talentvolle seun is amptelik Matie
OPGEWONDE: Celeste Arendse en Cohnwille Swarts is albei opgewonde oor die nuwe hoofstuk van studentelewe.  ~ Foto Verskaf

VIR die eerste keer in sy hele lewe het Cohnwille Swarts ’n plekkie van sy eie.

Swarts, van Abbotsdale, is die jong kunstenaar met die ongelooflike talent oor wie Son verskeie kere berig het.

Hy is die outjie wat sy hele hart en siel in elke kunswerk van hom sit.

Sy kuns vertel ’n storie van die sukkelbestaan waaraan hy so gewoond is.

Verlede jaar het Swarts se werke vir hom die geleentheid van ’n leeftyd losgeslaan toe die rektor van die Universiteit Stellenbosch hom persoonlik spesiale toegang tot die universiteit toegestaan het.

Swarts het laas Maandag vir die eerste keer sy voete op die Maties-kampus gesit.

Sy juffrou en mentor, Celeste Arendse, vertel aan Son hoe excited en ready Swarts is.

“Kyk, dis ’n heeltemal ander wêreld, maar hy is baie hêppie.

“Ek het met hom gepraat en gesê dat hy elke aspek van die geleentheid moet geniet, maar dat hy ook gefokus moet bly omdat hy met ’n mission gegaan het om ’n verskil te maak.”

Arendse sê Cohnwille het sommer klaar vriende gemaak, al is sy geaardheid baie sag en skaam is.

“Ek is so trots op hom. Ek onthou die groot smile toe hy sy Maties-T-hemp aangetrek het.

“Dit was ’n smile van trots.”

Hartseer

Sy sê al was die gevoel ’n bietjie scary, het sy great gevoel.

“Ek het net gewonder hoe trots sy ma-hulle sou gevoel het om hom hier te sien.

“Toe ek loop, toe voel ek hartseer, asof ek my eie kind agter los, maar ek weet mos daar’s ’n rede hoekom hy hier is.

“Obviously gaan mense hom dophou, maar die pad voor hom is reeds uitgesit.”

Arendse het ook Son bedank vir al die ondersteuning.

“Ná die berigte het mense darem vir jou boodskappe gestuur. Hulle het oor sy werk gevra en wou ook ten opsigte van sy studies help.

“Ek is dankbaar vir jul belangstelling in hom en die feit dat Cohnwille ook deur die koerant ’n inspirasie vir ander kon wees.”

Arendse grap dat groot dinge soos die rugbywêreld ook vir Swarts wag.

“Hy wil rugby speel, maar hy’s die kleinste. Maar ons keer hom nie, want dis die kleinste mannetjie wat sulke groot drome bereik het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters