Verlede maand
Talent teken sy toekoms
SO TROTS: Cohnwille Swarts glimlag hier breed oor sy uitslae saam met sy kunsonderwyser, Celeste Arendse.  ~ Jonathan Lestrade

UNIVERSITEIT Stellenbosch, hier kom hy!

Cohnwille Swarts, wie se tekeninge baie mense se asem wegslaan oor sy hope talent, het nou vir hom die geleentheid van ’n leeftyd losgeslaan.

Die jong kunstenaar van Abbotsdale is die sprekende voorbeeld van hoe drome bewaarheid kan word en hoe swaarkry nie altyd in die pad van sukses hoef te staan nie.

Swarts vertel sy storie met ’n groot Colgate-glimlag wat nie weer gou van sy gesig afgevee sal word nie.

Swarts is een van die matrikulante wat in die moeilikste tyd nóg sy matriekjaar geslaag het.

Hy vertel Vrydag aan Son hoe senuweeagtig hy was toe hy nog vir sy uitslae gewag het.

“Ek het geweet ek gaan slaag, maar ek het nie geweet hoe nie. Toe ek daai koevert oopskeur, was dit ’n gevoel wat ek nog nie voorheen beleef het nie.

“Dit was fantasties omdat ek geweet het dit be­teken dis die begin van my drome en toekoms.”

Swarts was hierdie keer ook baie meer confident as die vorige kere toe die skaam jong man die minimum gepraat het en sy kunswerke die praatwerk laat doen het.

Hy sê hy kan net dankbaar wees teenoor die Here, sy ouma, onderwyser en gemeenskap.

Sy kunsonderwyseres, Celeste Arendse, vertel met trots wat diep in haar oë gesien kan word dat Swarts nie net ’n deur vir homself oopgemaak het nie, maar ook vir die volgende studente wat deur haar klas sal kom.

Rolmodel

“Hy verstaan dit dalk nie nou nie, maar hy het gemaak dat deure vir die next batch ook oopgaan.

“Hy het ons op die map gesit.

“Hy is hul rolmodel en ek is so, so trots op hom.”

HOPE TALENT: Cohnwille Swarts by een van sy ongelooflike kunswerke. Foto: Jonathan Lestrade

Hoewel Swarts met twee persentasiepunte die gemiddelde gemis het vir universiteitstoelating, het die universiteit steeds laat weet hy is aanvaar.

Juffrou Arendse meen jy kan nie talent keer nie.

Swarts praat met Son in die kunsklas waar hy eers ure lank gesit het om sy talent uit te leef.

Leerders was besig met ’n kunsklas tydens Son se besoek saam met Swarts aan sy alma mater.

Elke tweede student wat verbyloop, groet hom met ’n groot smile.

“Om te dink dat alles hier vir my begin het. Ek verlang baie na die klas, maar ek weet daar lê nou groter dinge voor my. Stellenbosch, hier kom ek!”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters