4 maande gelede
Talent blom in swaar lewe
BAIE TROTS: Die kunsonderwyseres, Celeste Arendse, en skoolhoof John Stewe by Cohnwille Swarts, hul talentvolste matriek in die kunsklas.  ~ Peter Abrahams

ABBOTSDALE. – Ontmoet ’n matrikulant met groter as lewensgroot talent.

As hy ’n potlood in sy hand neem, begin die papier leef en sy oorgroot lewensgetroue sketse lyk asof dit uit die papier wil klim om jou te kom groet.

Cohnwille Swarts (18) sit sy hele hart en siel in elke kunswerk wat hy maak. Hy beeld daardeur die sukkelbestaan uit waaraan hy so gewoond is.

Nederigheid

Swarts het ’n godgegewe talent en hy het besluit elke skets wat hy maak, gaan die storie vertel van sy lewenservaring – wat nie juis met voorspoed besaai is nie.

Son het dié talentvolle jong man gaan ontmoet uit wie se oë die nederigheid straal.

Sy ouma Rosemary Basson (65) sê hoeka so met die groetslag: “Die nederigheid sien mens in die kind se oë. Dis soos elkeen van die sketse wat hy maak ...”

Ouma Rosemary was juis met bokse en plastiek op pad om die pot aan die roer te hou.

Sy sê: “Dis hoe ek dinge aan die gang hou. Hoe ek Cohnwille die geleentheid gee om skool toe te gaan. Dis al wat die kind wil hê... om ’n sukses van sy lewe te maak.”

Swarts se ouers is albei oorlede en hy woon by sy ouma.

Sy sê half skaam: “Wat hy sommige tye vra, kan ek nie gee nie, maar dit wat ek kan gee, maak hy van gebruik. Ek sien dit, want met elke geleentheid, byvoorbeeld week­ends, skoolvakansie en ná skool, gaan hy skool toe om sy talent te verbeter en dit maak my hart so bly.”

Ouma Rosemary sê al is die omstandighede swaar, gee haar kleinseun se ongelooflike talent hulle hoop.

“Ek is so trots op hom. Ek onthou hoe hy in gr. 2 iets vir my geteken het.

“Ek het tóé al geweet die kind het ’n talent van die Here gekry.

“Ek bly hoop en glo dat my gebede by die Here uitkom dat deure vir die kind oopmaak.”

Die matriekleerder in Hoërskool Schoonspruit is ná sy eksamenvraestel reguit kunsklas toe en dis waar Son hom aangetref het.

TALENT: Die groter as lewensgroot sketse vertel die verhaal van ’n lewe waaraan die leerder gewoond is. Foto: Verskaf

Sy kunsonderwyseres, Celeste Arendse, vertel hoe trots sy op hom is. “Al wil ek nie sy kop laat swel nie, moet ek admit dat sy werk van die beste is.

“Kyk, Cohn­wille was nie altyd so soet nie. Daar was tye dat ek maar geskel en geskreeu het.”

Arendse probeer Swarts nou by die Stellenbosch Academy inkry en met die hulp van oudleerders gaan hulle die Cohn­wille-trust stig.

John Stewe, die skoolhoof, sê Swarts se werk is so sterk dat dit nie eens ’n verduideliking nodig het nie. “Wanneer jy na sy sketse kyk, kan jy klaar uitmaak wat aangaan. Dis die groter pyn wat ons daagliks in mense se gesigte kan sien wat sy werk so funksioneel en so spesiaal maak.”

Swarts is ’n man van min woorde. Hy laat die fyn waarneming in sy kunswerke oor sy lewe praat.

Hy vertel: “Ek het die tema armoede gekies omdat ek dit verstaan. Dis iets wat my baie na aan die hart lê omdat ons dit ken.”

Beroemde

Swarts sê met elke potloodstreep voel dit asof hy wegbreek van die stigma. “Dis soos my get-away om ander se verhale van sukkel te vertel wat ek al gesien het.”

Hy droom om eendag ’n beroemde kunstenaar te wees.

  • Enige iemand wat Swarts met sy studies of toekoms in kuns wil help, kan Arendse by 074 889 1958 bel.
Nog een van Cohnwille Swarts se kunswerke. Foto: Verskaf

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters