17 dae gelede
Sy is engel onder die engele
HELPENDE HANDE: Berelize Bester en David Klaaste van Landbougemeenskapsontwikkeling en Sonia­ Coetzee, die sopkombuis-projekbestuurder, by van hul skenkings.  ~ George April

VREDENDAL. – Vir hul 67 minute op Mandela-dag het Sonia Coetzee en twee paartjies wat graag betrokke wou raak onder­ meer 100 brode onder minderbevoorregtes in Mangaung in Vredendal-Noord uitgedeel.

Coetzee sê: “Hoewel die brood nie rêrig genoeg was nie, het ons dit gedeel met diegene wat dit die nodigste het.”

Die paartjies is Aneeka Davids-Isaacs en Abdul Qasif-Isaacs en Kaylene Campbell en Antonio Cloete.

Behoefte

Son het Coetzee gekontak nadat iemand wat haar goeie dade raakgesien het, die koerant gevra het om dit te doen.

Coetzee sê: “Ek het aan die begin van lockdown ’n behoefte gesien omdat kinders en volwassenes begin vra het vir kos.

“Covid-19 het veroorsaak dat baie mense werk en inkomste verloor het.

“Die Here het my hierdie idee gegee en ek het pap en kos begin maak.

“Mense in die gemeenskap het betrokke geraak nadat ek ’n boodskap op Facebook en WhatsApp geplaas het.”

Sy sê Afrox het vir hulle ’n gasstoof met gas geskenk en Jannie Kruger van Mr. Baker het die brode geskenk.

Hy skenk steeds daagliks 30 brode.

Coetzee sê die Stellar Founda­tion (SF) is ook ’n gro­ot hulp in dié tyd.

Hy gee daagliks ’n gekookte maaltyd vir meer as 100 mense.

SF het al by twee geleenthede 120 kospakkies aan brandarm gesinne verskaf.

Coetzee vertel: “Ons is vier vroue wat onder my leiding kook op verskeie punte in Mangaung en ons bly afhanklik van skenkings.

Coetzee se helpers is Fiela Joseph, Hendrieka Murphy en Catherina Rooi.

“Mense wat kan help, kan tweedehandse klere en komberse vir ons winterprojek skenk.”

Vir hul daaglikse program kort hulle groente, droë produkte (rys, mieliemeel, soya mince, ens.) en hoender.

  • Skenkings kan gedeponeer word in die Capitec-bankrekeningnommer 1128276702 of deur Coetzee te bel by 078 733 0658.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters