16 dae gelede
Sukses wink
lekker: Anslin Davis voel tuis in die wingerde en in die natuur. FOTO’S VERSKAF  ~ 

“EK WIL my drome bewaarheid en die plan is om eendag my ma en pa te help.”

So sê ’n jong man wat ten spyte van verskeie uitdagings en moeilike tye sy BA-graad in wynkunde onlangs voltooi het.

Anslin Davis (22) van Lantanastraat, Paarl-Oos, het in Desember sy kursus aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.

Dit was ’n moeilike pad vir hom tot dusver, maar dié jong man se toekoms lyk nou beter.

Albei sy ouers is werkloos en sy pa, Henry (57), is gestremd.

Sy ma, Felicity (59), sien om na hom.

Ondanks die uitdagings, het Anslin sy oë op sy drome gevestig.

Volgens hom het hy nooit oorweeg om hom by bendes aan te sluit nie, want hy was op sy drome gefokus.

Hy sê verder: “Ek was op skool baie goed in wiskunde en fisiese wetenskap en ek het ’n passie vir die natuur gehad.

“Ek dink wynkunde het my passie vir die natuur en wetenskap byeengebring.

“Ek het deur baie moei­like omstandighede grootgeraak.

Realiteite

“Maar dit het my altyd gemotiveer om beter te doen en altyd na my doelwitte te werk.”

Anslin is bewus van die realiteite by sy huis, maar hy sien steeds baie uit na ’n tyd wanneer hy sy ouers sal kan help.

“My pa is verlam – vir meer as 30 jaar nou al – en my ma kyk mooi na hom,” laat hoor Anslin.

“Dinge is ’n bietjie moeilik tuis, maar ek is besig om ’n plan te maak.

“Ek is besig om sukses te behaal. Ek is besig om my drome te bewaarheid.

“My droom is om my ma en my pa te help.”

Anslin het in 2016 in die Paulus Joubert Sekondêre Skool in Paarl-Oos ge­matrikuleer.

Jeremy Arries, stigter van Community Aftercare Sanitation Education (Case), ’n Paarl-Oos-gebaseerde organisasie sonder winsbejag, sê hulle het besluit om Anslin te help werk kry, aangesien hy weens die lockdown by die huis sit.

Aanmoedig

Anslin sal na verwagting binnekort ’n kursus aanbied by een van Case se partners in die landboubedryf.

Arries sê: “Ons wil altyd die jeug ’n hand gee en hulle aanmoedig om hulle nie by bendes aan te sluit nie.

“Hy (Anslin) gaan vanaf volgende week ’n fasiliteerder van ’n landboukursus in Moorreesburg wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters