Verlede maand
Stormers, DHL steun kankerbewusmaking
Stormers
Die logo op die spelers se mou wys hul ondersteuning vir kankerbewusmaking.  ~ Foto Verskaf

DIE Stormers gaan in Oktober en November ’n spesiale logo op hul truie dra om bewusmaking vir bors- en testikulêre kanker te skep.

Die logo bestaan uit ’n kombinasie van die tradisionele pienk lint wat gebruik word vir borskankerbewustheid en ’n blou “Movember”-snor, wat verband hou met bewusmaking oor testikulêre kanker.

Siya Kolisi, kaptein van die Stormers, sê die span is trots daarop om mense meer bewus te maak van sulke verdienstelike sake.

“Bors- en testikulêre kanker is belangrike gesondheidskwessies. Ons as ’n span wil alles in ons vermoë doen om saam met ons borg, DHL, ons steun aan hierdie veldtog te toon.”

Elke jaar word borskanker wêreldwyd by 2 miljoen mense gediagnoseer. Die impak van die diagnose het ’n onbeskryflike emosionele impak op elke pasiënt en dié se vriende, familie en kollegas.

John Dobson, afrigter van die Stormers, sê die waardes agter hierdie bewusmakingsveldtog weerspieël wat die spelers en bestuur van die Stormers as ’n span wil wees.

Megan Collinicos, visepresident van bemarking by DHL Express: Afrika Suid van die Sahara, sê: “By DHL Express is ons trots op ons toewyding tot die gesondheid en welstand van werknemers.” 

Collinicos sê die veldtog is gerig op bewusmaking en nog belangriker: op die opvoeding en ondersteuning van hul werknemers.

“As deel van ons ‘Fit For Work, Fit For Life’-veldtog moedig ons werknemers aktief aan om na hul gesondheid om te sien en die bewustheid te skep dat die voorkoming en vroeë diagnose van hierdie traumatiese siektes van kritieke belang is.” 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters