Verlede maand
Stigting sien die nood raak
GEE TERUG: Gerald Louw sê danksy die kontakte wat hy deur sy organisasie gemaak het, kan hulle selfs meer mense voed.  ~ Jonathan Lestrade

MAAK nie saak wat die weersomstandighede is nie, daar is altyd tyd om aan jou medemens te gee. En elke bietjie maak ’n groot verskil.

Dít is die leuse van drie jong vroue van Soutrivier.

Hulle het onlangs in die erge reën steeds kos aangedra aan dié wat honger is.

Arlene Louw, Amina Collins en Taryn Simons het Dinsdag met ’n krat vol kospakkies gestap om langs die pad te gaan uitdeel aan mans wat werk soek.

Die vroue is lede van die Golden Anchor Solid Rock Foundation, wat al jare kos aan minderbevoorregtes skenk.

“Ons stap om by hulle uit te kom omdat ons weet hulle het die kos nodig. Die bietjie hoop wat ons hulle gee, motiveer hulle om vas te byt, al sukkel hulle,” sê Gerald Louw.

Gerald is die direkteur van dié stigting wat sedert 2018 kospakkies en vars gemaakte kos aan minderbevoorregte mense skenk.

Saamwerk

“Ons het die organisasie gestig omdat daar so baie mense is wat altyd kom kos vra. Ons het toe oor naweke begin kos gee en ná ’n tydjie het ons besef die nood raak groter,” sê hy.

DANKBAAR: Taryn Simons (links) en Arlene Louw deel warm kosbakkies uit aan ’n groep mans wat elke dag uitgaan om werk te soek. Foto: Jonathan Lestrade

Hy sê hulle het toe uitgebrei en ander organisasies gekontak wat dieselfde doel het.

“Ons het begin saamwerk en só kan ons nou meer mense help. Ons skenk tans ’n bakkie warm kos aan die mans wat op straat staan en werk soek. Ons weet dit is nie maklik vir hulle nie.”

Verder skenk die organisasie ook kos aan bejaardes in hul gemeenskap en families.

“Ons fokus ook op kinders. My dogter Arlene maak weekliks kos vir die kinders in Klapmuts.”

Hy sê dit gaan nie net oor kos uitdeel nie. Dit is ook om mense te motiveer en bemagtig.

“Daardie manne wat werk soek en dié wat waste pickers­ en street dwellers is, het almal kos nodig.”

Arlene sê hulle wil graag nóg meer mense ondersteun, maar dis nie altyd moontlik nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters