28 dae gelede
Stiaan wil graag uitstyg
YWERIG: Stiaan Diergaardt wil sy omstandighede verander.  ~ Foto Verskaf

WORCESTER. – Hy het swaar grootgeword, maar nooit toegelaat dat sy omstandighede hom onderkry nie.

Stiaan Diergaardt van die Riverview-woonstelle het lank terug besluit hy wil beter vir homself doen.

’n Familievriend, Pedro Williams, verwys na Riverview as ’n klein Manenberg of Valhalla Park.

Stiaan, wat vroeg uit die skool is, het onlangs in ’n post op ’n Facebook-groep vir werk gevra en die beste CV wat hy kon in eenvoudige taal voorgelê.

Gawe

Dis ’n gedeelte van sy post: “Dis my storie: Ek is 19 jaar oud en ek het nog drie broers en ons is tans almal werkloos.

“Ek is baie goed met handewerk, wat ek glo ’n gawe van God is en ek is baie lief daarvoor.

“Ek doen sweiswerk, maak wendys en kassies reg, doen paint-werk en enige werk wat u nie kan by uitkom nie.”

Adrian Josephs het só op die post gecomment: “Hoop die Here voorsien. Jy is so ’n inspiration. I salute you.”

Anne Fredericks sê: “Stiaan, ek haal my hoed vir jou af. Yor, ek is trots op jou.”

Die feit dat een van sy broers, wat voorheen ’n bendeleier was, nou lewenslange tronkstraf uitdien en baie van sy vriende by gangsters en dwelms betrokke geraak het, het Stiaan laat besef hy wil nie dieselfde pad as hulle loop nie.

Hy sê: “Ek het onder moeilike omstandighede grootgeword en ek wil ’n goeie voorbeeld wees vir die jong mense in ons gemeenskap.

“Ek is nog vriende met my ou tjommies en van hulle is al langs my doodgeskiet en in die tronk, maar toe ek die foute sien wat hulle gemaak het, het ek besluit om ’n ander pad te loop.”

AREA: Stiaan Diergaardt het nie maklik grootgeword nie. Foto: Verskaf

Gavin Michaels (37), Stiaan se mentor, sê: “Stiaan luister na grootmense en hy vloek nie voor hulle nie.

“Hy is baie hardwerkend en dis daarom dat ek hom toelaat om my tools te gebruik.

“Hy kyk verby die verkeerde dinge wat op sy pad kom en almal wat hom ken, hou van hom.”

Sharon Diergaardt (49), Stiaan se ma, sê: “Stiaan het ’n sagte hart en gee om vir ander mense. As hy ’n geldjie verdien, deel hy dit altyd met ons. Hy is ’n goeie kind.”

Stiaan het verlede Donderdag begin werk by ’n plek wat baddens vervaardig en hy hoop om ná sy proeftydperk permanent aangestel te word.

Enige een wat vir Stiaan ’n deeltydse werk wil aanbied, kan hom skakel by 073 527 1425.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters