26 dae gelede
Stel kinders se welstand altyd eerste
Skielike gedragsverandering in jou kind, soos huilerigheid, kan dui op mishandeling.  ~ iStock

VERAL deesdae word baie kinders mishandel.

Dis dus baie belangrik dat jy as ouer noukeurig moet let op jou kind en die oppasser se gedrag.

Die internet wemel van video’s oor oppassers wat kinders mishandel.

Dink ook aan die hofsaak teen Abigail Ruiters en haar berk, Ameerudien Peters.

Peters word daarvan aangekla dat hy Ruiters se 17 maande oue seuntjie, Jeremiah, vermoor het.

Dis nadat sy Jeremiah in sy sorg gelaat het.

Die webwerf jougesin.solidariteit.co.za dui dié waarskuwings­tekens aan waarvoor jy moet uitkyk.

  • Die oppasser is geheimsinnig oor die daaglikse roetine.

Hoe jou kind en sy/haar oppasser hulle tyd deurbring, behoort nie ’n geheim vir jou te wees nie.

Wanneer jy by die huis kom, is jy waarskynlik gretig om te hoor hoe jou kind se dag was.

As die oppasser vaag is daaroor of onwillig is om te vertel, moet die waarskuwingsligte flikker.

Enige oppasser behoort te verstaan hoekom jy wil weet.

Selfs een met beperkte Engels behoort die hoogte- en laagtepunte van jou kind se dag te kan oordra.

  • Daar is net te veel vermybare ongelukkies.

Om beserings te voorkom, moet ’n oppasser altyd haar oë op jou kind hou en weet wat hy of sy doen.

Jou kind is dalk beseer omdat sy hom of haar alleen gelaat het.

Of erger: Sy mishandel hom of haar en gee voor dit was ’n ongeluk.

  • Jou kind is alewig honger en moeg.

As jou kind gereeld honger of moeg is wanneer jy by die huis kom, moet jy versigtig wees.

Die oppasser hou dalk nie by die kind se gereelde eet- of slaaptyd nie of skeep die kind se behoeftes in die algemeen af.

  • Die oppasser kritiseer jou ouerskap.

Moenie konstruktiewe voorstelle van jou oppasser sommer net afkeur nie.

As jy egter voel julle verstaan mekaar nie wat fundamentele sake soos voeding, slaap en veiligheid betref, gaan dié verhouding op die duur dalk nie uitwerk nie.

As jy opmerk sy voer nie jou versoeke uit nie, moet jy agterdogtig wees.

  • Jy kry ’n slegte gevoel oor die oppasser.

As jy twyfel, volg jou instink. Jou intuïsie is waarskynlik reg.

So, as ’n oppasser nie vir jou reg voel nie, is daar waarskynlik ’n rede wat jy net nog nie kon vasstel nie.

Tekens dat ’n kind in jou afwesigheid mishandel word, sluit in skielike onttrekking, gedragsverandering, angstigheid, vasklouerigheid, konstante gehuil, aggressie, slaapprobleme, eetversteurings en regressie na bednatmaak en klere bevuil.

Let op klein goedjies, soos dat die kind alewig bang is om huis toe te gaan of wegkruip as hy of sy weet die oppasser is op pad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters