Verlede maand
Steeds verlief ná 50 jaar
Huweliksherdenking: Die Hartoghs sê hulle is beste vriende.  ~ 

HIERDIE paartjie van Mitchells Plain is ’n werklike toonbeeld van liefde.

Ivan (74) en Rosaline (66) Hartogh het ten goede of ten kwade, in siekte en gesondheid, 50 jaar lank deur die laagte- en hoogtepunte van die huwelik gestaan.

Hulle het dié Sondag hul 50ste huweliksherdenking gevier.

Ivan geniet nog karaoke en volgens Rosaline is hy die beste danser. Sy liefde vir haar is ook onsterflik.

“Ek het haar op pad werk toe by ’n winkel ontmoet. Sy het daar gesit en ek het met my ringvinger gewys: ‘Vir jou gaan ek trou.’

“Drie dae later het ons mekaar begin sien. Daardie Desember het ons verloof geraak en die volgende jaar toe trou ons,” vertel Ivan.

Rosaline, of Rosy soos hy haar noem, meen ná al die jare kan Ivan haar nog laat bloos.

“Ek glo om die moed te hê om verskoning te vra en om na mekaar te luister, speel ’n belangrike rol in enige huwelik.”

Sy voeg by dat dit net die liefde en genade van bo is wat hul huwelik van krag tot krag geneem het.

Marco (43), een van hul drie kinders, meen dat sy ouers hom geleer het om toegewyd teenoor jou geliefdes te wees en om altyd openlik te kommunikeer.

Vir ewig: Familielede geniet die spesiale dag saam met Ivan en Rosaline. Foto’s: jonathan lestrade
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters