3 maande gelede
Speler se droom is ’n werklikheid
sterk op pad: Kaashiefa Christians, Mogamat Yusuf en Irafaan Abrahams is gelukkig dat hy aan die toernooi gaan deelneem. Foto: Tracy-Lynn Ruiters  ~ 

’N GESIG vol smiles vertel die storie van ’n 21-jarige Down-sindroomlyer van die Paarl.

Al wat Mogamat Yusuf benodig het, was geloof en ondersteuning.

Yusuf gaan in September Suid-Afrika op die Tafeltennis- wêreldbyeenkoms vir atlete met Down-sindroom in Portugal verteenwoordig.

Maar geld was vir hom ’n kwessie.

Irafaan Abrahams (48) ’n welbekende onderwyser op die Kaapse Vlakte, het omtrent twee weke gelede sy stilte oor sy eie gesondheidstoestand verbreek en eksklusief met Son daaroor gepraat.

Dié onnie, wat al byna ’n dekade ander help deur aan marathons deel te neem, vertel dat hy aan ’n toestand bekend as angioedema ly.

champ: Mogamat Yusuf spog met al sy medaljes.
wenner: Irafaan Abrahams (links) op pad om Mogamat Yusuf se drome te bewaardheid. FOTO’S Verskaf

Abrahams het dit toe sy plig gemaak om Yusuf te help om sy droom te bewaarheid.

En dit het hy gedoen met die hulp van Son se getroue lesers, natuurlik.

Abrahams het in Julie aan die Cape Town Festival of Running se 100 km ultra-marathon deelgeneem en mense is gevra om elke kilometer te borg.

Hy het die race in 13 uur en 30 minute voltooi.

Woensdagaand het Abrahams R57 000 aan Yusuf en sy mammie oorhandig.

Volgens Abrahams het hy baie ondersteuning van lesers gekry. “Ek is oorval met mense wat wou help, selfs van mense wat ek ken wat daarmee uitgekom dat hulle ook aan die siekte ly.

“Dit het my meer gepush.”

Abrahams sê hy kon daarin slaag om sy doel te bereik met behulp van Kamiel Abbas, die organisasie Women of Hope en baie individuele skenkers.

Hy sê hy self was geskok met al die hulp wat ingestroom het.

“ ’n Vrou van so ver as Saudi Arabia het gebel om iets te skenk.”

Yusuf se mammie, Kaashiefa Christians (42), kon nie ophou smile nie.

“Ek onthou die dag toe ek die nuus aan Yusuf moes breek dat hy nie aan die kompetisie kon deelneem nie. Dit het my gebreek.

“Maar hy het my net aangekyk en gesê: My mommy we make Du’a. We go, I promise’.

“Maande gelede het ons nooit kon dink dit sal waar word nie.

“Maar kyk hoe werk Allah deur mense wat ons nie eens ken nie. Ons is so dankbaar.

“Yusuf het so ’n goeie hart.”

En om alles te kroon het die kleremaatskappy Fieka besluit om Yusuf se kit vir die toernooi te borg. Die klong kon net sy gevoel in een woord beskryf: “Happy!”

Volg Tracy-Lynn Ruiters op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters