Verlede maand
Speaker bring sole vir skole
NEDERIGE DIENS: Masizole Mnqasela, speaker in die Wes-Kaapse wetgewer, trek ’n leerder aan die Laerskool Bergville in Bishop Lavis sy nuwe skoolskoene aan.  ~ Anele Mfazwe

DIE speaker in die Wes-Kaapse wetgewer, Masizole Mnqasela, gaan voort met sy ­skoolskoene-program.

Mnqasela het gister by die Laerskool Bergville in Bishop Lavis ­sowat 100 pare skoene aan behoeftige leerders geskenk.

Dis deel van sy Shoe Of Hope-program in ­samewerking met ­Youth4Life SA en ­Samaritan’s Feet SA.

Volgens Mnqasela het hy en sy partners sedert die begin van die lockdown laas jaar sowat 2 500 pare skoolskoene deur die ­provinsie aan behoeftige skoolkinders geskenk.

Hy sê vanjaar wil hulle daardie getal oortref. Mnqasela sê die projek gaan oor meer as net ­skoene.

Hy verduidelik: “Ons moet die skoolkinders hoop gee. Sommige van hulle het nog nooit ’n nuwe paar skool­skoene gehad nie.

“Van hulle dra slippers skool toe. Ander dra tekkies.

“Ons hoop is dat dié ­kinders eendag die pilots, onnies, wetenskaplikes en professionele mense word.

“Ons moet hulle vir so lank as moontlik op skool probeer hou.”

Aleem Abrahams, skoolhoof van die Laerskool Bergville, sê hulle ­waardeer die donasies.

“Ons wil egter nie net slagoffers wees nie,” sê hy.

Abrahams verduidelik dat die skool ­daagliks sowat 1 000 gekookte etes in die ­bendegeteisterde area ­verskaf.

Gangland

Abrahams sê verder: “Hierdie is ’n skool van betekenis. Ons is ’n skool wat gee. Ons ontvang nie net nie, ons gee ook aan ons ­gemeenskap terug.

“Hierdie skool is in die hart van gangland. Net soos hulle dié plek hul area en turf noem, noem ons dit ook ons turf.

“Wanneer hulle dwelms verkoop, verkoop ons hoop.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters