16 dae gelede
Son-man bliksem Early B in nuwe video
early b FOTO VERSKAF  ~ 

DIE rapper Early B was hard gebliksem oor sy vryerigheid.

Sy getroue aanhangers kan egter relax. Dis in sy nuwe musiekvideo vir die liedjie Bid vir Pouse waar die vuishoue so klap.

Die video het twee weke gelede gedrop en is al meer as 236 000 keer op YouTube gekyk.

Son se eie grapjas, Francois Scholtz, 'n rapper in eie reg, is ook daarin te sien.

Bid vir Pouse is Early B, oftewel Earl Swartz, se derde musiekvideo vanaf sy album Aangename Kennis.

In die video, wat in Newtonpark in die Baai geskiet is, hou 'n jong man (Early B) hom "die ou" by 'n oulike girl (Amber Jasmine Jacobs) se huis. Die girl se kwaai pa (dis nou Francois) daag dan skielik op en dinge eindig nie te goed vir Early B nie.

Scholtz, 'n sales rep by Son se Oos-Kaapse kantoor asook 'n stand-up comedian in sy vrye tyd, is egter glad nie 'n vreemdeling in die rap-bedryf nie.

Hy was deel van die rap-groep, Spin da Flava, wat in 2001 vir 'n South African Music Award benoem is.

Soos Earl is Francois ook van Bloemendal, 'n woonbuurt in Port Elizabeth.

Earl beskryf Francois as 'n ouer broer en sê sy rol in die musiekvideo is om dankie te sê vir sy ondersteuning oor die jare.

Francois Scholtz
Francois Scholtz

Francois sê hy en Early B is al vir meer as 10 jaar vriende.

"Ek dink hy het my vir die rol gekies omdat ek soort van 'n vaderfiguur in my gemeenskap is," sê Francois.

"Dit was great. Die team het 'n clear vision gehad en als het maklik gevloei omdat niemand ego's het nie," verduidelik hy sy tydjie op stel. 

"Wat dit so great maak is dat Earl en die production team enige tyd sou stop wanneer 'n fan 'n foto saam met hom wou vat.

"Op en van die stel af is hy dieselfde humble mens."

Francois sê hy moes diep grawe om die rol van 'n kwaai pa te speel wat Earl te lyf moes gaan.

Benito Carelsen, ook iemand wat vir jare met Earl gewerk het en deesdae 'n kameraman vir Nuusdagom8 is, het die video direct.

Early B se twee ander musiekvideos vaar uitstekend op YouTube.

Ben 10 is al meer as 1,7 miljoen keer gekyk en Potte meer as 2,7 miljoen.

Hy sê hy hoop Bid vir Pouse kan net so goed doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
22 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters